Yonela Mneno (32) van Malmesbury inspireer nou ander nadat sy eers haarself van haar eie pyn en hartseer moes genees.
Yonela, ’n oudverpleër wat intussen na die wêreld van konstruksie oorgeskakel het, het die druk wat die samelewing op vroue plaas, eerstehands ervaar. Sy is vandag 14 jaar met die liefde van haar lewe getroud, maar die egpaar het steeds nie kinders nie.
Haar pad na genesing weens haar onstuimige kinderjare in die Oos-Kaap het begin op die dag toe sy met ’n hand vol pille staan en haar eie lewe wou neem. “Ek was alleen in die huis. Daar was niemand, maar ’n stem het so duidelik gesê ek moet my doel nastreef,” onthou sy met ’n glimlag.
Yonela was die produk van ’n buite-egtelike verhouding. Haar biologiese pa was reeds getroud en het ’n gesin van sy eie gehad. Sy het dus van ’n jong ouderdom nie geweet waar sy hoort en wie sy werklik is nie. Haar ma is dood toe sy maar net nege jaar oud was.
Die opsie om by haar pa te gaan bly, was buite die kwessie. “Hy het ’n gesin van sy eie gehad en ek het begrip daarvoor gehad. My ouma het my in haar sorg geneem, en my kort ná my ma se dood as ’n weeskind geregistreer vir staatstoelae as pleegouer sodat ek my studies kon voortsit,” verduidelik sy. Daarmee saam het egter ’n gevoel van verwerping tog gekom.
Yonela het op 18-jarige ouderdom haar trouman ontmoet en die knoop deurgehaak. “En ja, dit was uit vrye wil,” skerts sy. “Daar was geen probleme nie. Ons was jonk en verlief en my skoonouers het ons huwelik ondersteun,” vertel sy.
Kinders was haar en haar man, Odwa, tot vandag toe nog nie beskore nie. “Ek is gedurig gevra wanneer ons kinders gaan hê. My man het reeds ’n kind van sy eie gehad toe ons getroud is, dus was hy nie die probleem nie. Natuurlik was dit by my. Ek het soos ’n groot mislukking gevoel,” voeg sy by.
Namate die jare aangestap het, het dit by haar bly spook dat sy nou vir die sondes van haar voorouers betaal. “Die druk van die samelewing was op my – veral as vrou.”
’n Ginekoloog het uiteindelik vir haar die bevestiging gegee dat alles aan haar kant reg is. Dokters het later bevind haar man se spermtelling was baie laag. In-vitro-bevrugting is egter nie iets waaroor daar binne die Xhosa-gemeenskap gepraat word nie. “Die probleem word onder die mat ingevee,” verduidelik Yonela. Volgens haar was in-vitro-bevrugting taboe. Die begeerte om ’n kind van haar eie te hê, het nie weggegaan nie.
“Ek wou ’n ma wees, juis omdat ek nie ’n familie van my eie gehad het nie – een waaraan ek behoort en een wat aan my behoort.”
Intussen help sy om haar stiefkind groot te maak. “Ek het my alles in ons verhouding ingestoot, maar op die ou einde is en bly ek die stiefma. Alles wat ek doen, dui ’n rooi vlag aan. Alles het net te veel geraak en my na die afgrond geneem,” vertel Yonela, wat met depressie begin sukkel het. “Dit het tot ’n punt gekom waar ek gedagtes oor selfdood gekry het. Ek was moeg vir alles.”
Volgens Yonela was sy moeg daarvoor om almal se beker rondom haar te vul, terwyl dit vir haar gevoel het of haar eie lewe in duie stort. As ’n gekwalifiseerde verpleegster, het sy toegang tot medikasie gehad. Sy was reg om haar eie lewe te neem. “Ek het in daardie stadium gedink my man sal my kan vergewe. Hy het darem ’n kind om met die lewe aan te gaan.”
Selfdood was onmiddellik iets van die verlede toe sy ’n stem hoor. Yonela beskryf haarself as ’n biddende vrou wat glo. Daarom het sy besluit om na die stem te luister.
“Ek het geweet ek moet by myself begin as ek my ware doel in die lewe wou vind. Ek moes teruggaan na die jong meisie wat seer het en haar genees.”
Volgens haar word so baie mense – mans en vroue – ouers, wat hul kinders grootmaak, maar met ongeneesde wonde van hul eie. “Hulle maak hul kinders groot terwyl hulle nog seer het.”
Nadat Yonela haarself vergewe het en op die pad na genesing was, het sy haar eie beker begin vol maak. Sy het besef sy is genoeg en dit was net die begin tot die strewe na haar doel in die lewe. “Dit was tyd om vir ander vroue te laat weet hulle is ook genoeg.”
Só het die beweging Ndiyazazi, wat in Xhosa “ek ken myself” beteken, begin. Die inisiatief om ander vroue met hul eie pad na genesing te inspireer en te help, is in 2023 amptelik van stapel gestuur.
Sy het reeds 11 vroue-geleenthede reg deur die Wes-Kaap aangebied waartydens sy gaste herinner dat hulle genoeg is, ongeag dit wat die samelewing van hulle verwag.
“ ‘Ndiyazazi – I am Enough’ is ’n kragtige beweging en handelsmerk wat op 1 April verlede jaar vlerke gekry het. Met hierdie inisiatief is ek daartoe verbind om vroue deur self-ontdekking te bemagtig – vandaar die slagspreuk ‘Ons maak mekaar se krone reg’.”
Yonela brei uit oor die terugvoering en hoe vroue op hul eie pad van genesing gegroei het. “Met hierdie inisiatief is die tradisie geskep waar ons mekaar eerder opbou as afkraak.”
Yonela het vooraf vir ’n beradingskursus gegaan om werklik te verstaan waar genesing begin en hoe sy ander vroue kan help om hul ware self te ontdek.
Haar eie begeertes om ’n baba te hê, het nog nie verdwyn nie. Die Yonela-egpaar het intussen met in-vitro-bevrugting begin,” vertel sy opgewonde. “Ons het in September verlede jaar met die proses begin. Daar was vier suksesvolle embrio’s waarvan twee ingeplant is.”
Dit was ongelukkig negatief.
“Met dié nuus het ek dankie gesê vir die Here. Hy het my verwys na die boeke Job en Filippense. Toe verstaan ek hoekom ek dankie gesê het. Ek het besef indien die Here my vroeër met kinders geseën het, ek nie gereed sou wees nie.” Sy en haar man gaan aan die begin van volgende jaar die oorblywende twee embrio’s laat inplant.
Intussen is Yonela besig om ’n boek te skryf, haar handelsmerk uit te brei en skoonheidskompetisies te reël.
Hou hierdie ruimte dop vir haar volgende geleentheid.




