Die erg beskadigde woning nadat ’n motor teen die huis vasgery het. Die bestuurder het glo beheer oor sy voertuig verloor. ’n Bejaarde vrou, wat na bewering in die huis gelê en slaap het, is noodlottig beseer. Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

MONTAGU – ’n Bejaarde vrou het Vrydag 31 Maart omstreeks 07:00 haar lewe op ’n tragiese wyse verloor nadat ’n voertuig in haar huis vasgery het.

Antjie Klein (89) het na verneem word in haar huis op die plaas Mooi Erfenis in die Pietersfontein-omgewing op haar bed gelê en slaap toe ’n motor die huis skielik met ’n hewige slag getref het.

Op ’n foto wat kort ná die voorval op sosiale media verskyn het, kan ’n voertuig met ’n CBR-registrasienommer gesien word wat langs ’n erg beskadigde huis op sy sy lê met beskadigde boustene wat verspreid op die toneel lê.

Klein, wat ernstig in die voorval beseer is, is met ’n ambulans na die plaaslike hospitaal vervoer, maar is na verneem word met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Die bestuurder van die motor is ongedeerd.

Kapt. Inus van Huyssteen, die bevelvoerder van die Montagu-speurtak, het die voorval bevestig.

Na bewering het die bestuurder van die motor op die Pietersfontein-grondpad, naby die oorledene se huis, beheer oor die voertuig verloor, waarna dit in die huis ingeploeg het.

Van Huyssteen het verder bevestig ’n 32-jarige man is in verband met die voorval in hegtenis geneem en sal eersdaags in die plaaslike landdroshof verskyn.

“ ’n Saak van strafbare manslag is vir ondersoekdoeleindes aangelê,” het Van Huyssteen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article