Elsie Sauls (67) van Zolani in Ashton pronk in die groentetuin wat sy geskep het as deel van ’n projek wat vroue en kinders in die omgewing bemagtig. Foto: JP Myburg


Sommige mense bestuur sopkombuise of deel kospakkies vir behoeftiges uit, maar Elsie Sauls (67) van Zolani in Ashton ontwikkel vroue en kinders op verskeie terreine en help hulle sodoende met vooruitgang.

Sauls is in Robertson gebore en woon haar lewe lank in die Langeberg. Sy het ook ’n draai in KwaZulu-Natal gemaak en ’n tydjie in Durban saam met haar man gewoon. Ná sy afsterwe het sy na Ashton teruggekeer en woon sedert die vroeë 2000’s hier.

“Ashton lê my nog altyd na aan die hart. My pa het ook hier gewoon en hy was lief vir sy groentetuine. Ek het toe ek klein was nooit verstaan hoe ons altyd kos op die tafel gehad het nie – winter of somer. My pa het ure in sy tuine deurgebring en ek was absoluut gefassineerd. Hy het my geleer oor die waarde wat daarin opgesluit lê om ’n man (of vrou) eerder te leer visvang as om ’n vis te ontvang,” vertel sy aan Gazette.

Ná haar terugkeer van Durban af het sy besluit sy wil nie as ’n fabriekswerker werk nie en het sy ander passies gehad.

“Ek kyk nie neer op daardie beroepe nie, maar ek het geweet iets anders is vir my beskore. Ek het my eie tuin begin en by ’n vroue-ontwikkelings­organisasie wat op landbou fokus, aangesluit. Ek het deur die Brasiliaanse regering die geleentheid gekry om twee jaar lank ’n kursus in landbou te doen en het ook in Senegal ’n kursus bygewoon.”

Dit het haar beywer om geleenthede vir ander te skep. Sy het nie net die groentetuine in haar agterplaas begin nie, maar ook ’n volwaardige gemeenskapskwekery op die been gebring, wat sy self bestuur.

Gazette het in 2020 tydens die pandemie in die beginfase van hierdie projek gehelp om ander by te staan en te bemagtig – nou doen sy dit op ‘n nog groter skaal.

“Hier leer ek mense meer oor plante en hoe om ook in klein ruimtes die beste resultate te bewerkstellig. Ek verkoop ook plante, groente en kruie, maar deel ook daarvan aan behoeftiges uit,” sê sy.

Verder gebruik sy haar eie groente om kos voor te berei wat sy uitdeel as deel van ’n hulporganisasie wat sy geskep het.

“Ek het sowat drie jaar gelede besluit om my eie organisasie, Sinagogo, op die been te bring. Ons fokus op opleiding en ondersteuning. Ek het net gevoel ons kan groentetuine begin soos ons wil, maar dit beteken niks as ons nie mense kan kry om betrokke te raak en mekaar te ondersteun nie.”

Sy het toe ’n netwerk vroue bymekaargekry, wat elk hul eie tuine geskep het en mekaar nou nog help om kos vir behoeftiges voor te berei, maar sy het nog ’n idee gehad.

“Ek het gevoel ek kan kinders en jong volwassenes ook leer om kos voor te berei. Ek het ’n nuwe oond gekoop en my kombuis ingerig, en nou bied ek gratis klasse aan waar ek diegene wat daarin belangstel, wys hoe om kos te maak. Hulle bak en brou en geniet dit baie,” verduidelik sy.

Sy sê die inperking het haar planne op die uitbreiding van haar projek effens gekniehalter, maar sy het ander geleenthede oor ander se pad gebring. Hulle het kos voorberei en dan aan behoeftiges uitgedeel – alles uit haar tuin en kombuis, en alles ook uit haar eie sak.

“Ek het dit nie breed nie, maar saam sal ons as gemeenskap struikelblokke oorwin. Ek is eintlik ’n naaldwerkster, en dit is ook waar my alledaagse brood en botter vandaan kom. Met daardie geld kan ek weer inploeg in my mense en dié wat dit nodig het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article