Abbotsdale Lillies en Vredenburg, die Grootuitdaagliga-kampioene van Swartland en Weskus, het mekaar die afgelope Saterdag (2 November) in die vierde ronde van die Sanlam Boland Rugbyunie se Top-12-kompetisie getakel.
’n Oorwinning oor Vredenburg sou verlore aansien vir Denna Koopman en sy span herstel het nadat hy verlede week op sy tuisveld teen Newtons van Wellington net-net vasgeval het.
Die swaargewigte het van meet af aan hewig gebots en nie ’n tree vir mekaar teruggedeins nie. Lillies het die bal met ’n sterk vaste skrum gewen en ’n uitstekende agterlynbeweging begin wat op ’n drie uitgeloop het (telling 7-0).
Vredenburg, wat aanvanklik gesukkel het, het momentum gekry en sy eerste punte deur Mezovon Bezuidenhout aangeteken. ’n Volgende drie punte van Nazro Cleophas in die negende minuut het Vredenburg met 8-7 laat voorloop.
Albei spanne het probeer om die bal lug te gee, maar Vredenburg het daarin geslaag deur net voor rustyd ’n drie te druk en die telling 13-7 in sy guns te maak.
Lillies het ná rustyd ’n tweede drie gedruk en ’n strafdoel bygevoeg en met 17-13 voorgeloop nadat Vredenburg gestraf is omdat hy die bal op die grond vasgehou het.
’n Strafdoel aan Vredenburg het die agterstand tot een punt verminder toe Cleophas dit vir 17-16 omgekrap het.
Vredenburg het hul vertoning verbeter deur groter druk op Lillies toe te pas en hul derde drie gedruk om 23-17 voor te loop. In die laaste tien minute het albei spanne ondanks hoëtempo-aanvalle met hanteerfoute gesukkel. ’n Kritieke strafskop van Cleophas het Vredenburg se oorwinning van 26-17 beklink.
Lillies sal nou moet hergroepeer om aan hul foute te werk voordat hulle Caledon in hul laaste wedstryd takel. Vredenburg reis Saterdag (9 November) na Wellington om Newtons aan te durf.
Darling, wat naelskraaps met 24-23 oor Ceres geseëvier het, sal hierdie Saterdag (9 November) teen Saldanha in die Transnet-stadion in Saldanha kragte meet, met die doel om die seisoen op ’n hoë noot af te sluit. Intussen moet Saldanha ’n oorwinning oor Darling met ’n bonuspunt verseker en sodoende hoop Robertson val vas teen Safcol United en tel geen liga punte op nie.
Caledon en Safcol United het reeds hul plekke in die halfeindronde verseker.
Puntemakers
Drieë
Vredenburg: Grgan Papier, Conan Le Fleur en Mezonevn Bezuidenhout
Lillies: Shane Niemand en Samkelo Siyo
Doelskoppe
Vredenburg: Nazro Cleophas (3)
Lillies: Ethan Will Diston (2)
Strafdoele
Vredenburg: Nazro Cleophas (1)
Lillies: Ethan Will Diston (2)





