Emmerick Rayners, die woelwaterskrumskakel van Villagers, duik oor vir die eerste van sy twee drieë. Rayners is as die speler van die wedstryd aangewys. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Villagers Montagu het Saterdag (11 Februarie) die vriendskapsbeker wat jaarliks op die spel is wanneer hy teen Roses United in ’n vriendskaplike wedstryd meeding, behou.

Villagers het die Fallen Heroes-beker, wat voorheen as die Ivan Pekeur-wisseltrofee bekend gestaan het, die tweede agtereenvolgende jaar verower nadat hy dié Wellingtonse span met 21-5 behoorlik ore aangesit het.

Weens die versengende hitte het die wedstryd, wat op die King Edward sportterrein in Montagu gespeel is, eers omstreeks 17:50 begin.

Die tuisspan het gou 7-0 voorgeloop nadat Emmerick Rayners (skrumskakel) gedruk en Beon Hartnick (regtervleuel) verdoel het.

Skaars vyf minute daarna het Roses egter met ’n onverdoelde drie teruggeslaan om die telling op 7-5 te staan te bring.

Ná sowat ’n halfuur se spel het Rayners, wat ’n barshou gespeel en ook as die speler van die wedstryd aangewys is, sy én sy span se tweede drie gedruk.

Hartnick het weer die kol getref en die telling het tot 14-5 gegroei.

Kort voor rustyd het Villagers ’n sarsie aanvalle op Roses se doellyn van stapel gestuur, maar die besoekers het op daardie tydstip stewig gestaan en goed verdedig.

Rustyd het aangebreek met die telling steeds onveranderd op 14-5 in Villagers se guns.

Ná die blaaskans het Roses – in ’n poging om sy agterstand te probeer verklein – ’n strafskop pale toe gemik, maar dié was regs verby.

’n Paar minute later het Jack van Wyk, die haastige linkervleuel van Villagers, sy span se derde drie ná ’n goeie skrum deur die tuisspan gaan druk. Villagers het die ruimte aan die linkerkant aangeval en Van Wyk weggestuur, wat ná ’n sterk lopie met ’n pragdrie afgerond het.

Hartnick was weer suksesvol met die doelskop en die telling het na 21-5 aangeskuif.

Ten spyte van talle goeie aanvalle deur die besoekers, kon hulle net nie deur die hegte verdediging van die tuisspan dring nie.

Uiteindelik het Villagers met 21-5 geseëvier en die Fallen Heroes-beker behou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article