Young Hamiltons se skrumskakel breek weg met die bal. Foto’s: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

MONTAGU – Die Grootuitdaagbeker rugbywedstryd in die Breë-Langeberg-afdeling tussen Montagu Villagers en Young Hamiltons sal waarskynlik lank onthou word vir die besoekers se merkwaardige terugvegpoging in die tweede helfte van dié kragmeting.

Die wedstryd is Saterdag (20 Augustus) op die King Edward- sportterrein in Montagu gespeel.

Ondanks Hamiltons se goeie wegspring danksy ’n suksesvolle strafdoel, was hy met die aanbreek van rustyd nogtans 8-14 agter nadat Villagers twee drieë in die eerste veertig minute gedruk het. Albei is verdoel.

Hamiltons kon slegs vyf punte by sy telling voeg ná ’n onverdoelde drie.

Nadat die spanne kante geruil het, het dit gelyk of Villagers die oorhand het. Hy het kort ná die hervatting van spel sy voorsprong vergroot met nog ’n verdoelde drie en het op daardie tydstip gemaklik met 21-8 voorgeloop.

Hamiltons het egter koelkop gebly en kort hierna begin terugveg. Hy het sy agterstand verklein met nog ’n suksesvolle strafdoel.

Villagers het egter minute later weer gaan druk.

Sy losskakel, Maxwell Klaasen, wat goed gekorrel het, het met sy vierde doelskop van die middag geslaag om die telling 28-11 te maak.

Sake het vir die tuisspan gunstig gelyk. ’n Oorwinning was ’n groot moontlikheid.

Die besoekers het egter hul spelpeil ’n kerf of drie gelig en met hernude vuur en energie begin speel.

Ná ’n blitskrieg van drie drieë deur die besoekers was die telling eensklaps gelykop (28-28). Twee doelskoppe was mis.

Villagers het hierna weer die voortou met ’n onverdoelde drie geneem.

Hamiltons was egter vasberade om die wedstryd in sy guns te beklink en het binne minute ook ’n onverdoelde drie aangeteken om die telling nog `n keer gelyk te laat trek – 33-33.

Met speeltyd verstreke het dit sy stelskopper, Ethan Setera, in die onbenydenswaardige posisie geplaas om die wedstryd met ’n suksesvolle doelskop vir sy span te probeer wen.

Asems is opgehou toe hy aanlê pale toe.

Setera het egter, hoewel onder groot druk, koel en kalm die moeilike doelskop van teen die kantlyn af, tussen die pale deurgeskop en so aan sy span `n welverdiende sege van 35-33 besorg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article