MCGREGOR – Ná die veelbesproke 17-minute-rugbydebakel waarin Villagers Montagu die vorige naweek op die King Edward-sportterrein betrek is, het hy hom ondanks die hangende tugverhoor nie van stryk laat bring nie. Inteendeel, hy het sy kop omhoog gehou en met ’n goeie vertoning teruggebons.
Ongelukkig was dit McGregor, wat niks met die fiasko te doen gehad het nie, wat dit moes ontgeld.
Hierdie keer het Villagers gedurende ’n insident-vrye 80-minute-Grootuitdaagbeker-rugbykragmeting die span van McGregor laat les opsê.
Dié ligawedstryd is Saterdag (10 September) op McGregor se tuisveld gespeel.
Die eindtelling was 36-29 vir Villagers, en vlei as’t ware McGregor aangesien die besoekers deurgaans die oorhand gehad het.
Die stok in die besoekers se wiel was egter die talle strafskoppe binne trefafstand, wat die tuisspan uitgebuit en in punte omgeskep het. Dit het Villagers gekniehalter en verhoed dat hy met die wedstryd kon weghol.
McGregor het nou wel vroeg in die wedstryd die voortou geneem deur eerste punte op die telbord te kry, danksy ’n strafdoel deur sy losskakel, Gershwin Cupido, maar sy klein voorsprong was egter van korte duur.
Villagers het vinnig die punte opgestapel en beheer geneem.
Teen rustyd was hy reeds gemaklik 28-16 voor, terwyl McGregor voortdurend onder druk was en gedwing is om inhaal-rugby te speel.
Met die besoekers in beheer van die wedstryd – veral in die vaste skrums – was die tuisspan genoodsaak om swaar op die akkurate skopvoet van Cupido te steun.
Benewens twee doelskoppe wat hy oorgeklits het, het Cupido ook ’n verdere vyf strafdoele tussen die pale deur geskop vir ’n persoonlike bydrae van 19 punte.
Die res van sy span se punte was die twee drieë wat hy verdoel het. In die eerste helfte het Sidwell Hull (linkervleuel) vir McGregor gaan druk, en ná draaityd was dit Granville Davids (binnesenter) se beurt.
Villagers, wat tot dusver ’n sukkelseisoen beleef, was egter in ’n vernietigende bui. Hy was vasberade, doelgerig en ongetwyfeld die beter span op die veld.
Sy vyf drieë teenoor sy teenstanders se twee is bewys van die houvas wat Villagers op die wedstryd gehad het.
Beon Hartnick (regtervleuel), John Muller (flank), Tyronne Fortuin (buitesenter) en Charlton Fortune (binnesenter) het almal in die eerste veertig minute agter McGregor se doellyn gaan kuier. Fortune se drie het boonop ’n waardevolle bonuspunt aan sy span besorg.
Handré Ontong, heelagter en stelskopper van die besoekers, het goed gekorrel en vier van die vyf drieë verdoel.
Ná rustyd het Villagers sy goeie spel voortgesit en ’n vyfde drie behaal nadat Ulfred Terblanché, sy die agsteman en leier van die rooi-en-wit-troepe, gaan druk het.
Kort hierna het die besoekers effe konsentrasie verloor, wat die tuisspan in staat gestel het om met strafdoele nader te kruip.
Nietemin was dit Maxwell Klaasen (plaasvervanger-losskakel) se suksesvolle strafdoel laat in die wedstryd wat die laaste spyker in McGregor se doodskis gemoker het.
Die besoekers se sege van 36-29 was ’n oortuigende en baie welverdiende oorwinning in die reeks.





