Vier verdagtes verbonde aan ’n poging tot gewapende roof was in Worcester in hegtenis geneem. Foto: Luciano du Toit


Vier verdagtes is in Worcester vasgetrek nadat hulle ’n winkel in Rietzstraat, Robertson, wou beroof.

’n Winkeleienaar was Donderdagaand besig om voorraad uit sy voertuig te laai toe die verdagtes hom met ’n vuurwapen gedreig het.

“Die traliehekke van die winkel was gesluit terwyl die eienaar buite besig was om sy voorraad af te laai. Twee van die vier verdagtes het na hom toe gestap en hom met ’n vuurwapen gedreig en gesê hy moet die hek oopsluit. Dit blyk hy het egter te lank na hul sin gevat,” verduidelik ’n woordvoerder van die Robertson-polisie.

Hy sê twee ander verdagtes het in ’n motor gewag toe die ander hulle geroep het.

“Hulle het toe weggejaag. Die eienaar van die winkel het ons toe hiervan in kennis gestel en ons het toe ’n uitsending na polisiekantore in omliggende dorpe gestuur om op die uitkyk te wees vir die voertuig waarin die verdagtes gery het,” het die woordvoerder aan Gazette verduidelik.

Die verdagtes is later in Hoogstraat in Worcester in hegtenis geneem. ’n Bron met onkreukbare kennis van die voorval sê die verdagtes het op die Robertsonpad afgedraai en deur Zwelethemba gery.

“Die verdagtes wou die polisie flous deur ’n ompad te ry, maar daardie eenheid was gereed vir enigiets. Die verdagtes het toe deur Zwelethemba gery en by Hoogstraat aangesluit. Hulle het by die Smithstraat-kruising regs gedraai – na die N1 – maar die polisie het die motor by die Agrimark voorgekeer en die verdagtes in hegtenis geneem,” het die bron verduidelik.

Twee vuurwapens is by die vier verdagtes gevind.

Die verdagtes het Vrydag (23 Junie) in die hof verskyn. Hulle word in Worcester tot hul volgende verskyning Maandag 3 Julie aangehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article