MONTAGU – Vier jong mense is beseer nadat hulle na bewering in ’n parkeerterrein deur ’n motor omgery is.
Die voorval het in die parkeerterrein voor die CBR Lounge & Sport Pub gebeur.
Volgens inligting het die polisie ’n oproep ontvang dat iemand voor die CBR Lounge & Sport Pub omgery is en lede het gaan ondersoek instel.
Met hul aankoms op die toneel, is drie beseerdes, wat later geïdentifiseer is as Lee-Mary Gentleman (17), Cameron Fluks (16) en Jeremy Klaasen (18), op die teeroppervlak van die parkeerterrein aangetref. ’n Vierde beseerde, ene Erno Plaatjies, was glo nie meer op die toneel toe die polisie daar opgedaag het nie.
Na bewering het ’n voertuig teen ’n hoë spoed by die parkeerterrein ingery.
Jerrad le Roux, die eienaar van die rooi Toyota Carolla, wat in die voorval betrokke was, het na bewering aan die polisie gesê hy het in die parkeerarea gestaan en ’n harde slag gehoor, waarna hy toe nader gestap en gesien het mense is omgery.
Luidens inligting het ene Renaldo le Kay glo op ’n tydstip die betrokke aand Le Roux se motor gebruik.
By navraag by die plaaslike polisie oor die beweerde voorval, het AO Suria Meyer, kommunikasiebeampte, slegs bevestig dat ’n saakdossier van roekelose en nalatige bestuur geopen is en die voorval verder ondersoek word.




