Vian Steenkamp staan trots met sy medaljes. Foto: Sarie Nell


Vian Steenkamp van Malmesbury het pas van die Afrika-toutrekkampioenskap in Zimbabwe teruggekom. As lid van die Springbokke se Gazellespan, dra hy deesdae vier goue medaljes. Die span moes egter alles uithaal om die spreekwoordelike Goliat by die byeenkoms te klop.

Vian, ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Swartland, vertel die eerste dag het ’n opeklub-kampioenskap tussen 412 trekkers van verskeie klubs behels. Die deelnemende Afrikalande se nasionale spanne het op die laaste dag teen mekaar getrek.

“Maar toe raak dit op die eerste aand pikdonker. Ons moes toutrek onder bakkieligte terwyl ondersteuners ’n mense-kring rondom ons gevorm het. Die vuvuzelas het geblaas; daar was baie geraas – en te min lig.”

Die ware uitdaging het die Saterdagoggend voor hulle kom staan toe die opwinding, spanning en onsekerheid gedreig het om die span te oorweldig. “Ons was 37 van ons wat ons volkslied gesing het. Kort daarna het die vrouespanne presteer. Intussen het ons spankaptein, Dawie Swanepoel, ons aangemoedig om diep binne onsself te soek na daardie één rede waarvoor ons alles op die spel sal plaas – iéts waarvoor elkeen van ons wil wen.

“Omdat elke veld anders trek, en ons elke keer ligter as die opposisiespanne is (soms 60 kg ligter) het ons die stres gevoel. Intussen het my vastrapknie baie gepyn, maar toe elkeen van ons genoeg ‘ge-hype’ was en daardie een rede gevind het om te wen, was elk van die 12 trekke suksesvol; vandaar ons vier goue medaljes.”

Vian glimlag trots, tevrede. “Ons het hard gewerk hiervoor.” Hy voel veral trots op die nasionale drag wat hy kan dra. Die aand waarop die Springbokkleure toegeken is, is ’n hoogtepunt in hul gesin se herinneringe.

“Ek het geleer hoe diep ’n mens binne jouself kan delf vir motivering. Ek het opnuut geleer om met krag te trek, is nie die oplossing nie; tegniek en die régte tyd vir ’n sterk trek is deurslaggewend.

“Dit maak dinge soos die seer knie en eelte op my hande die moeite werd, al skeur ’n eelt soms stukkend. Dan gooi ons staaldruppels op, plak ’n pleister op en gaan trek verder!”

Vandat Vian en sy spanmaats einde Junie teruggekeer het, was daar reeds ’n naweek met Wynland/WP-kampioenskappe, en pas ook Riversdal se Wes-Kaapse kampioenskap.

Malmesbury se Yvonne Bester het ook hier as WP-spanlid deelgeneem.

Ter afsluiting van die seisoen wag die SA kampioenskap op Ashton vir Vian.

“Ek is rég, het nog baie om te leer en sien daarna uit om nog baie te ontwikkel,” sê hy.

“Malmesbury se senior toutrekklub het so ’n groot rol in my ontwikkeling gespeel. Ek hoop meer plaaslike mense sal by hierdie klub, gelei deur Bennie Geldenhuys, aansluit.” . Geldenhuys kan by 083 412 3069 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article