Die plaaslike polisie vermoed dié gereedskap is dalk gesteelde eiendom.


Diewe het verlede Maandagaand op ’n perseel by die plaaslike winkelsentrum in Malmesbury, De Zwartland Markt, toegeslaan en duisende rande se produkte gebuit.

Drie onbekende mans het Maandag 8 Julie omstreeks 21:50 die aand by die drankwinkel van Food Lovers Market, Market Liquors ingebreek en goedere gesteel. Volgens ’n verklaring wat deur die bestuur van die winkelsentrum uitgereik is, het die inbrekers die parkeerterrein met ’n voertuig binnegekom kort voordat die hekke gesluit sou word.

Die inbrekers het volgens sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder van die Malmesbury-polisie, toegang verkry deur die vensters van die ingang van die winkel met die deksel van ’n drein te breek.

Volgens Du Randt is drank en sigarette ter waarde van oor die R350 000 in swart plastiekbaddens gelaai en uit die winkel gedra. “Die drie onbekende mans het die toneel binne twee minute met ’n rooikleurige motor verlaat nog voordat die polisie en gewapende-reaksie-lede kon opdaag”, het Du Randt bygevoeg.

“Die veiligheidswagte het die gewapende-reaksie-eenheid in kennis gestel, wat die verdagtes agternagesit het,” lui die bestuur se verklaring.

Volgens Du Randt het die gemeenskapspolisiëringsforum in Atlantis die volgende dag (9 Julie) inligting rakende die verdagtes se moontlike ligging ontvang en daarop reageer. Die drie verdagtes met ’n rooi Hyundai Getz is kort daarna in hegtenis geneem. Die verdagtes word ook met ’n huisbraak, wat in Junie in die omgewing van Parow plaasgevind het, verbind.

Die drie verdagtes van Mosambiekse afkoms het Donderdag in die plaaslike landdroshof in Malmesbury verskyn. Borgtog is geweier omdat die rowers as vlugrisiko’s beskou word. Slegs een produk van die winkelinbraak is in die besit van die verdagtes gevind.

Die bestuur het hul dankbaarheid teenoor veiligheidspersoneel, gewapende reaksie en die plaaslike polisie uitgespreek, wat hard gewerk het om die verdagtes vas te trek.

Huisbrake het intussen vir die afgelope paar weke in Malmesbury hoogty gevier. Die Panorama -en Tafelsigwoonbuurte het volgens Du Randt gebuk gegaan onder huisbraak en diefstalle. Verskeie veiligheidsmaatskappye in samewerking met die polisie het hul sigbare polisiëring verskerp. Twee verdagtes wat met die huisbrake verbind word, is Donderdag deur lede van Malmesbury Veiligheid en gewapende-reaksie-lede vasgetrek. Die verdagtes was besig om ’n vullisdrom vol goedere, wat onder meer elektriese toerusting bevat het, te sleep. Die vermoede dat die goedere iewers gesteel is, word ondersoek. Die verdagtes is vir die besit van beweerde gesteelde eiendom in hegtenis geneem en het gister Maandag (15 Julie) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article