Wilfred Wilson (56) van Malmesbury is Vrydagoggend (5 Augustus) in die Malmesbury-streekshof lewenslange tronkstraf opgelê vir verkragting.
Wilson is vroeër aan die verkragting van ’n minderjarige kind skuldig bevind. Die verkragting, wat glo oor ’n tydperk van drie jaar plaasgevind het, het begin toe die slagoffer nege jaar oud was. Dit het in November 2018 aan die lig gekom nadat die slagoffer uiteindelik iemand by haar kerk in haar vertroue geneem en die polisie gekontak is, het sers. Henry du Randt, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, gesê. Wilson is die volgende dag in hegtenis geneem.
“Die stasiebevelvoerder van die Malmesbury-polisie, kol. Mzwandile Gqabi, het die vonnis verwelkom en die goeie ondersoekwerk wat deur sers. Felicity Balie van die FCS Paarl [polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe] in die saak gedoen is, geprys,” het Du Randt gesê.


