Sakelui en verbruikers is skaars uit die ergste storm van struikelblokke, wat saam met die Covid-19-pandemie gekom het toe beursies aan die begin van die jaar van voor af geruk is deur die voortslepende oorlog in die Oekraïne, wat onder meer rekordhoogte brandstof- en voedselpryse veroorsaak.
Volgens Ruan Breed, finansiële raadgewer van Brenthurst Wealth, lewe ons in onbekende tye.
Hy het luidens ’n verslag, wat einde Mei uitgereik is, gesê verhoogde rentekoerse is te verwagte om die stygende druk van inflasie teen te staan, wat terselfdertyd voorspel verbruikers gaan vir die volgende paar maande steeds die wind van voor kry.
Brian Siebritz, voorsitter van die Malmesbury-sakekamer, sê dit is logies dat almal iewers onder die huidige voedsel- en brandstofprysstygings ’n knou gaan vat.
Plaaslike ondernemings soos restaurante en kleinhandelaars het egter nog nie alarm begin maak dat hulle ’n definitiewe slag begin voel nie.
Hy moedig sake-eienaars steeds aan om in hierdie moeilike tye beter te beplan vir meer doeltreffende dienslewering. Hy noem verder ondernemings in die vervoerbedryf moet veral gaan dink oor hoe hulle weens die hoë brandstofpryse volhoubaar kan bly sonder om produksie agterweë te laat.
Die Malmesbury-sakekamer hou kort ná die skoolvakansie ’n byeenkoms wat juis die kwessies van drastiese verhoogde lewenskostes takel. Meer inligting rakende die vergadering sal binnekort bekend gemaak word.
Kiewiet van Rooyen van Swartland-toerisme sê sy glo alle padgebruikers begin hul motors reeds meer konserwatief gebruik, maar lede binne die plaaslike toerismebedryf het nog nie heeltemal die gevolg van die afgelope brandstofprysstygings begin voel nie.
“Ons sal ’n beter idee hê watter uitwerking die verhogings op lede ná die komende skoolvakansie gehad het,” voeg sy by.
Plaaslike leningsmaatskappye kon op hul beurt ’n gewisse styging in nuwe kliënte die afgelope maand opmerk.
Volgens Jaco van der Westhuizen van Community Finance het hulle onlangs baie meer kliënte, wat korttermynlenings benodig, bygekry.
Finbond Malmesbury stem saam en sê hulle was die afgelope maand baie besiger, maar die meeste kliënte kan steeds hul lenings terugbetaal.
Leners het bevind korttermynlenings was vir die meeste kliënte nodig om eenvoudig by die werk uit te kom of om byvoorbeeld ’n kind se doktersrekening te betaal, en die geld het immers nié vir luukshede gegaan nie. Vervolg op bl.2


