Die departement van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling het verlede week Dinsdag ’n drie weke lange verbod op die verskuiwing van beeste geplaas. Volgens die departement was dié drastiese besluit nodig vir die doeltreffende bekamping van bek-en-klouseer.

Die epidemie het meer as ’n jaar gelede buite die Suid-Afrikaanse beheergebied in Limpopo en KwaZulu-Natal uitgebreek. Vyftien nuwe gevalle van die siekte is die afgelope twee weke alleen aangemeld, met ’n verdere twee provinsies wat geraak is, het die Rooivleis-produsente-organisasie (RPO) luidens ’n verklaring gesê.

Volgens die organisasie het dié aankondiging deur die minister, Thoko Didiza, ’n baie ernstige impak op die rooivleis-waardeketting. Hulle is dit eens dat ’n omdraai-strategie nodig is om die verdere verspreiding van die siekte te bekamp. Die uitwerking wat die verbod egter op die kommersiële asook die ontwikkelende sektor het, is beduidend groot. “Byna 1,2 miljoen huishoudings besit lewende hawe en maak staat op die inkomste daarvan, asook voedselsekuriteit,” verduidelik die RPO.

John Dürr, plaaslike verteenwoordiger van die RPO het ook bevestig dat dit nodig was om die verbod landwyd in te stel, al het daar nog nie enige bek-en-klouseer gevalle in die Wes-Kaap uitgebreek nie. Hoewel die besluit hulle aanvanklik gehinder het, word dit verwelkom om die verspreiding van die siekte onder beheer te bring. Hy sê doeltreffende polisiëring tussen die Oos-, Noord- en Wes-Kaap gaan onmoontlik wees. “Elke produsent moet nou sy verantwoordelikheid nakom.”

Dieter Schutte, ’n veilingskoördineerder, sê die verbod lei tot astronomiese finansiële verliese deur die hele waardeketting.

“Dit is sleg vir boere. Die enigste voordeel aan die verbruiker is dat beeste steeds geslag mag word, mits die produsent ’n rooikruispermit het.”

Schutte sê verder die verbod is baie nadelig vir veral makelaars en veilingshuise, wat vir 21 dae lank besigheid verloor.

Dit is ook byna die piek-bemarkingstyd vir speenkalwers, wat gewoonlik van September tot Oktober duur, en dus voerkrale raak, omdat geen speenkalwers aangekoop sal kan word nie, verduidelik hy.

Schutte sê hoewel dit nie voordelig vir die bedryf is nie, was stappe wel nodig om die plaaslike bedryf te beskerm, omdat mense altyd kanse vat.

“’n Impak op die waardeketting gaan daar beslis wees,” sê Nico Uys, voorsitter van RPO Wes-Kaap en visie-voorsitter van Agri Wes-Kaap se bedryfskamer. “Produsente verloor inkomste as gevolg van produksieveilings wat nie kan plaasvind nie. Voerkrale wat die meeste beesvleis aan mark voorsien is nou nog in produksie, maar omdat hulle niks nou mag inkoop nie, kan voorsien later ’n probleem wees.”

Volgens Jacques Bester, skoupresident van die Swartland-skou, het die verbod skoureëlings geweldig bemoeilik.

Die verbod op die verskuiwing van beeste word op 7 September hersien. Die beesafdeling begin op 8 September vanjaar met telers van oor die land heen, en dié wat van buite die Wes-Kaap kom, moet vooraf vervoerreëlings tref, wat die besluit of hulle wel nog gaan deelneem, bemoeilik.

“Dringende besluite gaan volgende week geneem moet word,” sê Bester.

In hierdie stadium gaan die skou voort soos normaal, hoewel deelnemers gevra is om hul inskrywingsfooie vir eers terug te hou. Telers is ook aangeraai om steeds hul beeste vir die skou voor te berei.

Bester sê indien geen ander uitweg moontlik is nie, sal daar ’n ander item in die arena waar met beeste geskou word, aangebied word. Hy voeg by die besluit plaas nie net die skou in ’n moeilike posisie nie, maar die finansiële implikasies is net so groot.

“Ongelukkig is dit ’n staatsbeheerde siekte en moet alle regulasies soos aangeteken nagekom word. Beeste mag vir die volgende 21 dae slegs na slagpale vervoer word, ná ondersoeke deur ’n veearts, en dan met die nodige permitte van jou omgewing se staatsveearts. Ongelukkig as die skou in dié tyd plaasvind, sal geen beeste te skou aangebied kan word nie. Dit is ook in die Staatskoerant genoem dat hulle weekliks na die omstandighede sal kyk en dan weer ’n besluit sal neem,” voeg Uys by.

Die RPO het bevestig dat die verbod slegs vir beeste geld, hoewel China sedert die uitbreking van bek-en-klouseer ook alle invoer van wol opgeskort het.

“Die RPO gee sy volle samewerking om te verseker dat die omdraai-strategie suksesvol is en tot die 21 dae beperk word.

“Ons as produsente van beesvleis sal alles in ons mag moet doen om te verseker dat die 21-dae-tydperk nie die voorsieningsproses van beesprodukte binne die waardeketting te ernstig raak nie,” voeg die organisasie by.

“Ongelukkig moet ons aanvaar dat dit deur die staat afgekondig is en ons deel van Suid-Afrika is.

“Afhangende van die besluit wat die staat neem, sal ons dit respekteer.”

Die siekte het geen impak op menslike gesondheid nie, slegs op internasionale handel van diere en diereprodukte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article