Met die gewilde pelgrimstog (camino) met sy aanvanklike oorsprong in Europa, waar die eerste Camino de Santiago vorm aangeneem het, bevind die Swartland-streek hom ook nou op die wêreldkaart van staptogte.
Die Kaapse Camino, wat in 2015 reeds begin het, is ’n langafstand-staproete en ’n persoonlike pelgrimsreis wat die stapper sowel as die plaaslike gemeenskappe en hul ekonomieë dien.
Gabrielle Andrew, wat die roete sewe jaar gelede begin het, vertel hoe die staproete die pelgrim of stapper geestelik, emosioneel en fisiek dien, maar ook die plaaslike ekonomie van die omgewing, dorpe of stede waardeur die roete beweeg, geldelik ondersteun.
Die inisiatief dien gewis as ’n volhoubare hupstoot vir plaaslike toerisme, verduidelik haar dogter Peggy Coetzee-Andrew. Sy het die Camino de Santiago in 2011 saam met haar ma gestap en gesien wat die staproete vir plaaslike ekonomieë in Europa beteken het.
Die Kaapse Camino strek oor byna 700 km. Sommige stappers voltooi die roete binne 40 dae, terwyl ander vir ’n baie langer tyd stap. Dit sluit talle heilige bestemmings in en stel die land se diverse kulture bloot. Volgens Andrew was die Swartlandstreek ideaal vir ’n pelgrimstog.
Die roete begin in Wellington, gevolg deur Riebeek-Kasteel en daarna onder meer Tulbagh en Piketberg. Verder vorm Koringberg, Darling en Yzerfontein ook deel van die pelgrimstog, waar talle plaaslike verblyf vir stappers beskikbaar gestel word en die plaaslike ekonomie ’n finansiële hupstoot kry. Die staptog eindig uiteindelik by Tafelberg.
Om die Kaapse Camino te stap, is ’n persoonlike ervaring en kan vir baie redes gedoen word, verduidelik sy. “Sommige stap vir genesing, om op ’n geestelike vlak toenadering te vind, in die natuur te wees, om weer ’n band met familielede te vorm of net eenvoudig weg te breek van hul besige lewenswyse. Dit is ’n gewilde vakansiekeuse op Camino-roetes oor die wêreld heen,” vertel sy.
Die Kaapse Camino se sterkpunte lê in sy diversiteit, brei Andrew uit. Die roete word bymekaar gehou deur ’n netwerk heilige bestemmings, plaaslike sakeondernemings, boere en die natuurlike elemente van die berge en riviere. Die span bestaan uit Peggy en haar ma, asook Colleen Mouton. Hulle beskou die ekonomiese voordele as die dryfveer agter die inisiatief.
“Die Kaapse Camino is ’n ekotoerisme-projek en bring slegs verantwoordelike reisigers na die Swartland en omliggende gebiede, sodat die omgewing bewaar word om die plaaslike inwoners volhoubaar te hou en die personeel en gaste in die spesifieke omgewings wat gedek word, op te voed.
Die Kaapse Camino is in 2016 deur die departement van landbou gekontrakteer om ’n pelgrimstog langs die Bergrivier te vestig. “Die doel van die projek was om bewustheid rakende die Bergrivier se waterstelsel te skep en die departement het ekotoerisme as ’n manier gesien om daardie doel te bewerkstellig,” verduidelik Andrew.
Sy vertel verder dat plaaslike mense uit die spesifieke omgewings aangestel word om pelgrims op hul tog te begelei. “Hulle is Camino-opgelei,” voeg sy by. “Die begeleier en die pelgrim vorm gewoonlik hegte vriendskappe. Mense van oral in die wêreld bring só kennis na Suid-Afrikaners wat nog nooit die land verlaat het nie. So ook deel plaaslike inwoners weer hul kennis oor die omgewing en kultuur met die buitelanders,” verduidelik Andrew.
Plaaslike inwoners was vol lof oor hul eie ervaring. “Die Kaapse Camino het vir my as vrou die veilige ruimte geskep om ‘alleen’ en sonder enige bekommernisse saam met God te reis. Ek kon 100% afskakel. Veiligheid, kos en verblyf was oral beskikbaar en heerlik,” vertel Surita Becker.
Janine Maritz het op haar beurt gesê sy het op die wynstreek verlief geraak.





