Angelo Johnson (21) van Malmesbury staan sedert 6 Mei die rol van CJ Marais op die kassie vol.

Hoewel Johnson reeds vier jaar gelede aan Schoonspruit Sekondêr gematrikuleer het, vertolk hy nou die rol van ’n matrikulant aan Simonsvlei Gimnasium, deel van die wel en wee van die Marais-familie op die wynplaas Soebatskloof.

Johnson het vir die eerste keer in gr. 7 op die planke verskyn toe hy die hoofrol in ’n konsert losgeslaan én boonop as beste akteur uitgeblink het.

Dié middelkind van drie het daar en dan besef die toneelspel-gogga het gebyt en seker gemaak hy neem drama as ’n vak op hoërskool.

’n Loopbaan as akteur was wel nie sy eerste keuse nie. Hy wou verpleegkunde gaan studeer, ’n amp myle verwyder van die kunste.

Weens sy matriekjaar onder Covid-19-kwarantyn in 2020, het sy biologiepunte nie die paal gehaal om ’n mediese rigting in te slaan nie.

“Maar God het mos maar sy plan en sy redes hoekom sekere goed gebeur.” Hy besluit toe op onderwys, waar toneelspel soms tog aan die orde van die dag is en hy het in 2022 onderwys aanlyn deur Unisa begin studeer. Vanjaar moes hy egter dié studies eers halt roep, danksy sy geslaagde oudisie vir die splinternuwe telenovela-reeks Kelders van Geheime.

Daar sou nie genoeg tyd wees om plek te maak vir sy studies én vir CJ nie, verduidelik hy.

Johnson voeg by dat hy wel uit ’n familie kom waar akademie eerste kom en stokperdjies later. “Hulle is nou trots, maar hulle was ook baie ondersteunend toe ek vir hulle sê ek gaan my studies eers laat staan om akteur te wees.”

Voor hy as akteur bekend was, het sy sangtalent egter voorkeur geniet. “Ek is eerste ’n sanger as wat ek ’n akteur is,” bieg hy. “Ek balanseer albei, maar musiek sal altyd my nommereenkeuse wees.” Vir Johnson kom toneelspeel natuurlik en geniet hy elke oomblik daarvan.

“Dit is my passie en voel nie soos werk nie. Dit is niks vir my om ateljee toe te gaan nie,” brei hy opgewonde uit.

Sy eerste kennisname met ’n televisiegehoor was sy verskyning op die program Koortjies, gevolg deur sy rol as Clement Diaz in Arendsvlei in 2023.

Sy rol in Kelders van Geheime het gekom danksy sy agent wat vir hom ’n oudisie gereël het kort nadat dit bekend geword het dat Arendsvlei tot ’n einde sou kom.

Hoewel beide karakters nog skoolgaande is, kon hy hom glad nie met Clement vereenselwig nie. Johnson geniet sy nuwe karakter baie omdat CJ ’n tipiese tiener is wat rebelleer.

“Clement was ’n boelie uit en uit. Hy wou net mense afbreek. CJ is ’n rykmanseun. Arrogant, vol selfvertroue, weet hy is aantreklik en weet dat hy kan doen net wat hy wil, maar hy is eintlik baie sag. Hy het mammie-issues,” vertel Johnson oor sy karakter.

“Ek sê altyd vir die mense, CJ herinner my aan wie ek was op hoërskool wat die selfvertroue betref. Die feit dat ek weet wat ek wou gehad het. Nie die arrogansie nie, maar definitief die selfvertroue. Die ander goed moes ek maar nou aangeleer het by CJ,” lag hy.

Hy beskryf sy dae op stel op ’n wynplaas buite Franschhoek as “ongelooflik”, veral om daagliks met ikoniese akteurs soos Sandra Prinsloo, Vinette Ebrahim, Nic de Jager, Cedwyn Joel en Abduragman Adams te werk – om net ’n paar te noem.

“Sjoe, dit is ongelooflik. Vir my is dit elke dag ’n droom as ek op stel kom en ek sien hier werk ek saam met dié mense. Hulle is lieflike mense. Ek kan vir hulle ‘antie’ en ‘uncle’ noem en ons kan sit en gesels oor simpel goedjies, soos ’n koppie tee of wanneer ons wasgoed gaan was. Hulle voel klaar vir my soos familie,” sug hy tevrede.

Johnson is verstom oor die kykers se reaksie. “Die mense is mal oor CJ se karakter. Ek het gedink hulle sou kwaad wees vir hom, maar hulle verstaan eintlik vir CJ. Hulle is opgewonde oor die reeks en kan nie ophou praat daaroor nie. Ek is opgewonde omdat die mense opgewonde is.”

Hy is byna daagliks en vir lang ure op stel en brei uit oor die harde werk wat ingesit is om die eerste paar episodes van Kelders van Geheime te skiet.

Wanneer hy nie sy lyf akteur hou nie, is Johnson besig om aan ’n nuwe enkelsnit wat gaan oor die liefde, Hier hê, te werk. En dit is nie al nie. Aanhangers kan ook binnekort uitsien na ’n gospelalbum wat in Augustus die lig sal sien.

Johnson is opgewonde oor die toekoms waar hy wil voortgaan om op sy persoonlike doelwitte te fokus, maar ook om homself verder in die industrie op te bou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article