Willbur Jasson (22), ’n oudleerder van die Hoërskool Swartland in Malmesbury, het ’n uitklophou geslaan gedurende die onlangse WP swaargewig-bokskampioenskap waar hy as ’n Elite-amateurbokser in die 92kg-afdeling deelgeneem het.
Jasson, voormalige hoofseun van die HSS, is tans in sy finale jaar vir sy LLB-regtegraad aan die Universiteit Stellenbosch. Wanneer hy hom nie agter die regsboeke vind nie, is hy in die kryt om te oefen en te boks.
Jasson, ook die hoofafrigter by die Maties-boksklub in Stellenbosch én voorsitter van die klub, verteenwoordig intussen ook die B-span van die SA Elite-boksspan asook die WP- Elite-boksspan.
Die jaar het skaars begin toe neem Jasson reeds deel aan die Vibrant Boxing-kampioenskap, gevolg deur die Kaapse Wynland-Distrikskampioenskap, waar hy met goud weggestap het. Hy het kort daarna ook ’n goue medalje in die Wes-Kaapse bokskampioenskap in Hermanus verower.
Jasson oefen hoofsaaklik deur die Body Elite-boksklub waardeur hy aan kompetisies, soos die Vibrant-boksliga, deelneem. “Ek moet maandeliks teen ’n teenstander boks om aan die einde van die jaar aan dié kampioenskap te kan deelneem, waar ons vir prysgeld boks.”
Die pad tot ’n amateurbokskampioen spruit egter uit ’n rugbybesering wat hy op hoërskool opgedoen het, vertel Jasson. Hy beskryf homself as ’n kranige rugbyspeler op skool. “Ek was nie ’n fantastiese rugbyspeler nie, maar ek was baie lief daarvoor,” skerts hy.
Sy toekoms in rugby het in graad 9 basies tot ’n einde gekom toe hy sy kruisligament geskeur en sy meniskus beseer het. Ná ’n operasie en nege maande lange rehabilitasie het hy na die veld teruggekeer net om homself weer te beseer, gevolg deur ’n knie-operasie. “Daardie eerste operasie wens ek nie eens vir my grootste vyand toe nie,” lag hy. Dit was vir hom aaklig om langs die kantlyn te staan terwyl sy spanmaats hul harte tydens interskole uitgespeel het. Dit is tog weens dié ervaring waartydens hy besef het dat daar vir elke terugslag ’n terugkoms moet wees, al kom dit nie in die vorm van rugby nie.
Jasson het in graad 11 begin boks toe hy finaal besluit het om sy rugbystewels weg te bêre. Hy het aanvanklik gedink sy knieë gaan ’n ruskans kry, maar het vinnig besef hy het sy voete en uiteraard sy knieë nodig wanneer hy boks. “Die impak was gelukkig nie so groot nie,” lag hy.
Rolmodelle soos die swaargewigbokser Anthony Joshua het hom onder meer gemotiveer om met die sport voort te gaan.
Jasson het kort daarna op universiteit Franco Rheeder, ook ’n voormalige hoofseun van HSS, ontmoet, wat toevallig LLB studeer het en ’n ywerige bokser is. Hulle het in 2021 saam begin boks, saam na die WP-kampioenskap deurgedring en uiteindelik tot die nasionale kampioenskap gevorder, waartydens Rheeder ’n bronsmedalje en Jasson ’n silwermedalje gekry het.
Kort daarna het die SA kwalifiserende uitdunne aangebreek. Rheeder het goud gewen en Jasson silwer, en albei het vir die SA span gekwalifiseer. “Dat twee outjies van Malmesbury in ’n kwessie van so ’n kort tyd so baie bereik het, is ongelooflik,” sê Jasson, en skryf dit alles aan die Here toe.
Hy is baie dankbaar vir Martin Roohde van die Scorpions-boksklub in Malmesbury wat hom en Rheeder onder sy vlerk geneem het. “Ons het geen idee gehad wat die sport werklik behels nie”, sê Jasson. “Hy het ons gehelp, die fondamente gelê en daardie jaar het ons die nasionale kampioenskap gehaal.”
Nóg rolspelers in die bedryf het gevolg, wat Jasson en Rheeder na nuwe hoogtes geneem het. “Ons was geseën deur mense op die hele reis wat weet wat hulle doen,” vertel hy dankbaar. “Dit is ongelooflik wat die Here vir ons gedoen het.”
Jasson sit baie keer ná ’n geveg en dink hoekom hy aan dié sport deelneem. “Ek is so dankbaar daarvoor. Dit het my geleer om buite my gemaksone te gaan en my vrese te oorkom.” Hy waardeer veral die dissipline wat saam met die sport kom. “As ek nie my ure insit nie, wys dit in die kryt. ’n Man kan foute maak, maar dit gaan jou kos. Dit is baie belangrik om fiks te bly.” Hy oefen twee keer ’n dag tot ses keer ’n week wanneer die tyd hom tussen sy studies toelaat. “Ek hou ook van die uitdaging dat dit jou op jou voete laat dink,” voeg hy by.
Die onlangse WP-kampioenskap, wat in Hermanus beslis is, het twee dae geduur, waartydens hy goud gewen het.
Nou lê die nasionale kampioenskap in Julie voor. Dit is egter nie sy enigste doelwit nie. Hy beoog om professioneel te boks. Vir nou doen hy so veel as moontlik ondervinding op. “Dit is ’n absolute voorreg om God se talente te kan gebruik.”





