Wanneer Esmé van Reenen van Malmesbury ’n vertrek binnestap, kan ’n mens sien waarom sy in haar vroeë twintigs Die Burger se nasionale Mej. Ekstra Mooi-kompetisie gewen het.
Hierdie 73-jarige het steeds ’n wen-glimlag en vriendelike hart. Sy spring steeds soggens vroeg op vir haar oefenprogram; sy’t reeds wonderlike pryse gewen in die 45 jaar dat sy skoonheidsprodukte verkoop; sy’t onlangs nog in hul avokadopeerboom geklim ter wille van daardie ontwykende vrug.
“Ek het hier op Malmesbury grootgeraak,” vertel sy. “My pa was ’n onderwyser; my ouers het my geleer ’n mens werk vir jou ouers.” Dit verwys na die instelling dat jong werkendes hul hele salaris vir hul ouers gee, dan ontvang hulle slegs ’n klein toelaag terug.
Esmé het baie vrede in haar gemoed oor die klein bedraggie wat haar pa maandeliks vir haar teruggegee het. Sy is oortuig dit bring vandag nog vir haar seëninge.
Dit het haar ook entrepreneurskap geleer: “Dan maak ek soms sewe rokke per week en brei ek truie om te verkoop. Daardie geld was myne.
“Klein inkomste ten spyt, kon ek steeds spaar ook. Ek het later onderwys by die Hewat Kollege in Athlone gaan studeer en self vir my studies betaal.”
Intussen was die kameras lief vir haar. Dit het haar die titel Mej. Ekstra Mooi besorg, met ’n oorsese toer as prys. “Ek het so ewe ’n chaperone gehad! Ons het ’n heerlike tyd in Frankryk en Duitsland deurgebring.”
Haar pa is terwyl sy studeer het, oorlede. Daarna het sy as naaldwerkjuffrou by Wesbank Sekondêr in Malmesbury gewerk. “Toe naaldwerk uitgefaseer word, moes ek myself instudeer in Besigheidstudies – wat ’n lekker vak! Ek het self ook baie daaruit geleer.
“Intussen het ek ’n oog vir winskopies ontwikkel. Wanneer ek in Kaapse winkels iets sien waarvan Malmesbury se mense sou hou, koop ek ’n bagasiebak vol en kom verkoop dit plaaslik – pantoffels, leg warmers, klere.
“Dit was eers ná my troue met die Darling-fotograaf Robert van Reenen dat ek begin het om skoonheidsprodukte te verkoop. By my eerste verkooppartytjie het slegs een persoon weens erge reën opgedaag! By die tweede partytjie het my dogtertjie buite rondgespeel toe die gasvrou se kalkoen haar bespring – my hart wou breek vir my kind!
“Tog het ek vasgebyt. Saam met skoolhou en ’n gesin, was my jaarlikse omset aanvanklik sowat R5 000, later jare R13 000 – plus die hoër bedrae rondom Black Friday.”
En toe begin Esmé nasionale topverkoper word en pryse wen – toere reg deur die land; op plesierbote; na Mauritius. “Veral die ongelooflike natuurskoon van die Drakensberge het my aangegryp.”
Sy kan nie uitgepraat raak oor die voordele van haar produk nie: “Dis ’n Suid-Afrikaanse produk, uitsluitlik gemaak vir die Suid-Afrikaanse vrou.”
Dalk is Justine-verkope juis haar redding; hierdie ekstrovert, wat hou van kontak na buite en ná twee dae van tuisbly mense om haar nodig het omdat sy dan voel na “iemand wie se hoender uit die pot gesteel is”, vertel sy laggend.
Die lewe van verkope het haar vele lewenslesse geleer: “Ek het soms geld verloor as mense nie betaal nie. Tog het hierdie verkope ons dikwels Januarie-maande deurgedra. Dit het ook gehelp dat ek sakestudies as vak in lewende lywe kon aanbied. Oudleerders vertel steeds hoe het sakestudies hul lewens aangeraak.
“Ek het my kinders van jongs af geleer ’n mens kyk mooi na jou ouers, want dis jou seëninge. Vandag nog is ek dankbaar vir die mooi verhouding tussen ons. Toe hulle jonger was, het ek alles gelos wanneer hulle storietjies oor hul dag vertel – snaaksighede oor onderwysers of dosente of klasmaats. Ons het saam gelag en saam geniet. Ek is vandag nog bly daaroor.”
Esmé het ook self hierdie waardes teenoor haar ma uitgeleef totdat haar ma twee jaar gelede ook oorlede is.
“Ek glo in die waarde van dankbaarheid; ek self het soveel redes vir dankbaarheid. Ek vra altyd vir mense wat so kla: ‘Maak jou grys hare seer? Tel eerder jou seëninge en wees dankbaar!”


