Wynand (links) saam met twee atlete uit Algerië. Wynand het hier silwer gewen, terwyl die Algeriese fietsryers goud en brons losgetrap het.

Credit: SYSTEM

Wynand Hofmeyr van Malmesbury het Vrydag van die Afrika-fietsrykampioenskap teruggekeer – met vyf medaljes in die sak.

Die Suid-Afrikaanse span, waarvan Wynand lid was, het van 5 tot 9 Maart sake in baanfietsry in Kaïro saam met agt ander Afrikalande uitgespook.

Die Suid-Afrikaanse span het twee goue medaljes in spanrenne gewen.

Die twee spanoorwinnings was in die Madison- en Team Pursuit-afdelings.

Wynand se individuele prestasies was in die afdelings elimination (silwer medalje), individuele pursuit (brons) en Omnium (brons). “Hierdie eerste deelname teen buitelandse ryers en die hele ondervinding was ’n ongelooflike ervaring. Ons het ook die kans gekry om die piramides in Gisa en die beroemde Egiptiese markte te besoek,” het Wynand Sondag vertel.

Ná Wynand se teruggekeer Vrydagmiddag was hy Sondagoggend vroeg weer in die saal – hierdie keer vir deelname aan die Kaapstad-fietstoer (voorheen die Cape Argus) oor 109 km, wat hy in 2 uur 34 minute afgelê het.

Gaan Wynand nou ’n bietjie rus? Hy lag sag: “Ek moet nou hard oefen vir die Suid-Afrikaanse Baanfietskampioenskap, wat van 25 tot 30 Maart in Kaapstad plaasvind. Kort daarna wil ek graag aan ’n avontuur-kampioenskap in Hermanus deelneem.”

Wynand, wat soggens voor sonop in Malmesbury op sy fiets klim en Milnerton toe fietsry vir sy werk daar, beskou hierdie daaglikse heen-en-weer-rit van 110 km as ’n belangrike deel van sy oefenprogram. “Harde oefening vereis dat ek my gesondheid en immuunstelsel baie goed oppas en daarop fokus om gesond te eet.”

Hy is besig om sy droom uit te leef, want reeds sedert skooldae is dit sy mikpunt om in fietsry te presteer. Tog vereis dit opofferings. “Soggens se bitter vroeg opstaan is maar net een daarvan! Dankie aan al Malmesbury se mense wat pette gekoop en my op daardie manier ondersteun het. Julle het gehelp om my Egipte-trip moontlik te maak!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article