’n Oud-rugbyafrigter staan in die Malmesbury-landdroshof tereg op aanklagte van poging tot seksuele aanranding en crimen injuria. Foto: Ter illustrasie


Die GOOD-party het besluit om ’n 66-jarige oud-rugbyafrigter wat reeds in die Malmesbury-streekshof op aanklagte van poging tot seksuele aanranding en crimen injuria verskyn het, uit die party te ontslaan.

Hoewel die beskuldigde se naam aan Weslander bekend is, mag dit in die geval waar iemand van ’n seksuele oortreding aangekla word, nie gepubliseer word voordat hy op die aanklagte pleit nie.

Die saak is tot Vrydag 15 Mei uitgestel om die slagoffer-impakverklaring en ’n SAP-69-verslag te bekom. Die SAP-69-verslag is ’n rekord uit die Suid-Afrikaanse Polisie se misdaadrekordstelsel, wat die oortreder se vorige veroordelings beskryf, insluitend die aard van die misdryf, die datum van skuldig­bevinding en die vonnis wat opgelê is. Die Vredenburgse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek die saak.

Die GOOD-party het in ’n persverklaring gesê hulle het die beskuldigde uit die party ontslaan weens “seksuele wangedrag”. Matthew Cook, GOOD se nasionale voorsitter, het verlede Maandag (25 Maart) se nasionale bestuurskomitee-vergadering bekendgemaak die man se party-lidmaatskap is beëindig en hy is as lid van die Wes-Kaapse Provinsiale Wetgewer verwyder. Hy het in November 2021 by die GOOD-party aangesluit en was sedert Mei verlede jaar deel van die wetgewer.

Dié besluit volg op die uitslag van ’n party-tugproses waar die beskuldigde skuldig bevind is aan die oortreding van die party se grondwet en gedragskode. Die party het op Woensdag 31 Januarie die formele klag van seksuele wangedrag teen die beskuldigde ontvang. Die aard van die bewerings het sy onmiddellike skorsing uit party-aktiwiteite geregverdig, hangende die ondersoek en formele tugverhoor.

Die GOOD-party se grondwet “handel omvattend en ondubbelsinnig oor geslagsregte en seksuele wangedrag”, en maak voorspraak vir gelyke regte en is teen die plaag van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika.

Adv. Lionel Esau, ’n onafhanklike tugverhoorvoorsitter, het die verhoor voorgesit met advokaat Peter Cyster as die aanklaer. David van der Merwe en adv. Mias Schreuder het die man verteenwoordig.

Suzette Little, ’n voormalige Kaapse raadslid en GOOD se adjunk-sekretaris-generaal, is Maandag in sy plek by die Wes-Kaapse Provinsiale Wetgewer ingesweer om die termyn tot die verkiesing op Woensdag 29 Mei te voltooi.

Die party het vroeër vanjaar bevestig hy het ook reeds twee senior partylede, Shaun August en Felicity Klazen, in 2023 geskors omdat hulle “partytjies in slegte smaak” gehou het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article