Die natuurlike omgewing van die Swartland-munisipaliteit is nog altyd vir die plaaslike owerheid ’n prioriteit – selfs wanneer dit by uile se broeiseisoen kom.
Werkers het gedurende roetine-instandhoudingswerk, wat verlede jaar in November by die munisipaliteit se stadsaal op Malmesbury plaasgevind het, op twee nonnetjies-uilkuikens in hul nes afgekom. Die nes is binne die dak van die stadsaal ontdek. ’n Besluit is geneem om die uilkuikens in vrede te laat totdat hulle groot is en die nes op hul eie verlaat voordat die opening binne die dak herstel sou word. Die munisipaliteit het toe ook besluit om ’n uileboks vir die volgende broeiseisoen op te rig.
Volgens Mart-Marié Haasbroek, die kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, is uile geneig om territoriaal te wees. Hulle is ook waardevol vir die ekologiese balans – selfs binne dorpsgebiede.
Uile help ook met plaagbeheer. Daarom was dit vir die munisipaliteit belangrik om die uile in hul gebied te probeer behou. ’n Nuwe uilhuis is soos beloof die afgelope Vrydag vroegtydig voor die nuwe broeiseisoen aangebring.
“Ons hoop hulle sal hul intrek in die nuwe broeiseisoen neem, wat later vanjaar sal begin,” voeg sy by.
Haasbroek het namens die munisipaliteit benadruk hoe belangrik dit is om na die natuurlike omgewing om te sien asook “om die natuurlewe rondom ons in ag te neem”, sluit sy af.




