Met die tweede ronde wat eersdaags begin, sal van die Swartland-streek se voorste rugbyspanne hul sokkies moet optrek.
Abbotsdale se Lillies pronk boaan die punteleer ná die eerste ronde met Good Hopes (Riebeek-Wes) twee punte agter. Wesbank is tans in die derde plek – vier punte agter Lillies – gevolg deur Porterville, wat op sy beurt twee punte agter Wesbank is, met Darling se melkboere nog twee punte agter Porterville in die vyfde plek.
Abbotsdale het die naweek na Saron gereis terwyl Wesbank Riebeek toe was met die hoop om ’n goeie sege te beklink. Darling sal egter sy swak vertoning in die eerste ronde wil afskud en die tweede ronde met ’n oorwinning wil afskop.
Young Eagles, met een oorwinning in die eerste ronde, sal ook teen die melkboere uit die stof wil opstaan en Darling sal op sy beste moet wees as hy in die tweede ronde ernstig opgeneem wil word.
Darling, die verdedigende Swartland-kampioen, begin sy tweede ronde agt punte agter Lillies. Good Hopes, wat die verrassingspakket van die seisoen is, sal moet kophou dat sy wiele nie in die tweede ronde afval. Die span van Riebeek-Wes sal teen Moorreesburg wil wys dat sy tweede plek op die punteleer welverdiend is.
Wesbank se wisselagtige vertoning in die eerste ronde kan ook moontlik tot ’n einde kom en die koringboere kan met ’n goeie oorwinning weer die hand opsteek vir ’n plek in die top-12 later vanjaar.
Never Despairs, wat 10 punte agter Darling in die sesde plek is, kan weer sy merk maak as die span Wittewater (10de) onthaal. Darling kan met volpunte een plek opspring of selfs twee indien Wesbank nie ’n punt uit sy wedstryd kry nie. Wesbank kan op sy beurt die eerste plek inneem as hy met ’n bonuspunt wen indien Lillies en GoodHopes vasval. GoodHopes sal ook hoop Lillies val vas en sal dan moet wen om die eerste plek oor te neem. .Gazette moes weens Maandag se vakansiedag reeds Vrydag (14 Junie) by die drukkers wees. Die wedstryde moes dus teen druktyd nog gespeel geword.




