Die vermeende moordenaars van ’n gerekende haarkapper, entrepreneur, bekende drag queen en kranige netbalspeler van Malmesbury het gister (Maandag 3 Julie) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

Alfredo “Tannie” April (39), een van Malmesbury se glanspersoonlikhede, is Donderdagoggend (29 Junie) vroeg vermoor toe hy vir ’n man, wat homself via selfoon as ’n vriend van April voorgedoen het, busgeld wou neem.

April is in die nek gesteek en is op die toneel dood.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, word ’n saak van moord teen twee verdagtes van onderskeidelik 27 en 32 jaar oud ondersoek. Die verdagtes bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

April se familie wou glo nie gehad het hy moet om 01:00 die oggend uit die huis gaan nie, maar hy wou die “vriend” gaan help en het met sy lewe daarvoor betaal.

April se laaste inskrywing op Facebook, “Watch this space”, dui daarop dat hy nog baie dinge wou doen en groot drome gehad het.

Die Weskus-netbal-federasie beskryf April in ’n skrywe op hul Facebookblad as ’n “gentle soul” en noem dat hy geliefd was onder die Weskus-netbalfamilie.

Nie net is die Weskus-netbalfederasie “met groot skok en ongeloof” vervul nie, maar op sosiale media is ’n stroom huldeblyke aan dié gewilde persoonlikheid gemaak.

Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, het gesê sy is “diep hartseer” om te hoor van April se tragiese heengaan. “Alfredo was passievol oor die sport netbal en sy onverwagte heengaan is ’n groot verlies. Ons meegevoel gaan uit aan Alfredo se familie en vriende asook sy netbalfamilie.”

Verskeie vriende sal April onthou vir die deftige manier waarop hy graag aangetrek het. Hy was blykbaar baie lief vir bling.

Hilton Galiepie Henkeman skryf in ’n gediggie dat April ’n persoonlikheid gehad het wat die gemeenskap gedien het: “Alfredo Lorenzo April vlieg hoog.”

Claudia Stuurman, ’n vriendin van April, skryf sy persoonlikheid en menswees het boekdele gespreek en sy glimlag was uitnodigend. “Jou aura het meer as die helderste ster geskitter. Jou trappies na sukses het jy met soveel poise geklim. Jou vriende het jy gekoester, jou familie met liefde omvou. Jou vyande het jy by die Here se voete neergelê,” en so sal sy hom onthou. “Rest in Prada.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article