Twee gesinne het verlede week al hul besittings asook hul wendyhuise in ’n verwoestende brand verloor.
Volgens Chinaas Mtabane, een van die inwoners, het die brand Dinsdag 13 Junie tussen 11:00 en 12:00 by hul woning in Malvastraat, Robertson, ontstaan.
“Ek was voor in die huis by my ma, en toe ek agtertoe loop, het ek net rook uit my wendy sien kom. Al wat ek kon red, was ons gaspot. Ek kon nie verder in die huis inbeweeg nie, want die vlamme was al hoog en die hitte was te erg,” verduidelik Mtbane, wat al sedert 2019 daar woon.
Die ander struktuur wat gebrand het, was haar broer se huis, wat hy in 2010 opgeslaan het. Hy en sy 15-jarige seun het daar gewoon. Mtabane, haar man en vier kinders het in die ander wendy gewoon. In hierdie stadium is dit nog onduidelik hoe die brand ontstaan het.
“Ek kan regtig nie sê wat gebeur het nie. Die vuur het so vinnig gebrand as gevolg van die sterk wind wat daai dag gewaai het. Teen die tyd wat die brandweer op die toneel aangekom het, was al twee wendyhuise al tot op die grond afgebrand. Ek het nie geweet of ek kom of gaan nie. Dit blyk wel of die brand in my wendy begin het. Ek kan dit nie glo nie; dit voel ek droom.”
Niemand was ten tyde van die brand in een van die huise nie. Mtabane se ma se huis het egter ook skade opgedoen.
“Die twee slaapkamers aan die agterkant van die huis is deur die rook en erge hitte beskadig en die mure is gekraak. Ek en my huisgesin en my broer en sy seun het alles verloor. Ons het net die klere wat ons aangehad het.”
Sy sê hulle het nog nie begin herbou nie. “Ons bly tans voor in die huis by my ma. Die brandweer het darem vir ons komberse en kospakkies gegee.”
Enigiemand wat die familie kan bystaan, kan Chinaas Mtabane by 064 391 9591 bel.





