WORCESTER – Die Montagu-krieketklub het Saterdag (14 Januarie) die span van Worcester met 23 lopies in ’n T20-krieketwedstryd geklop. Die wedstryd is op Esselenpark in Worcester gespeel.

Die muntstuk het vir Worcester gunstig geval, maar hy het besluit om Montagu in te stuur om eerste die groenerige baanblad te trotseer.

Jaco Joubert en Mario Pietersen het die besoekers ’n goeie hupstoot gegee deur 20 lopies in drie boulbeurte om die eerste paaltjie aan te teken, maar daarna het die paaltjies met reëlmaat geval.

Montagu was ná 13 boulbeurte in die warmwater. Hy het op daardie tydstip 82 lopies op die telbord gehad, maar ses van sy kolwers was reeds terug in die kleedkamer.

Die bouler van Worcester wat die meeste skade in Montagu se kolfbeurt aangerig het, was Melrick Williams. Hy het in vier beurte vier paaltjies laat spat en 26 lopies afgestaan.

Montagu het uiteindelik tot 140 lopies vir die verlies van sewe paaltjies gevorder voordat sy toegelate 20 boulbeurte voltooi is.

Jurrane Pekeur (27, nie uit nie), Jaco Joubert (20), Keanon Landsman (20) en John Wesley van Wyk (18) het stewig gestaan om die wa vir Montagu deur die drif te help sleep.

Tydens sy kolfbeurt was Worcester uit die staanspoor onder geweldige druk as gevolg van gedissiplineerde boulwerk en skitterende veldwerk deur die Montagu-span.

Die tuisspan kon in sy 20 boulbeurte slegs 117 lopies bymekaarmaak. In die proses het hy egter ook agt paaltjies verloor. Sy beste kolwer was Aubrey Erasmus, wat 28 lopies aangeteken het.

Montagu se vyf boulers – Keanon Landsman (1/17), Juandré Plaatjies (1/17), Ryan Anderson (2/29), Peter-James van der Berg (1/25) en John Wesley van Wyk (1/29) – het almal sukses behaal. Elkeen het vier boulbeurte afgestuur. . Saterdag (21 Januarie) speel Montagu tuis teen Robertson op die King Edward-sportterrein.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article