40-stroop vir opkikkering: Malmesbury-tennisklub se bane word tans opgegradeer. Foto: Verskaf


Plaaslike sportgeriewe in Malmesbury word danksy die hulp van die Mount Royal-landgoed se trustfonds opgeknap.

Nie lank ná die restourasie van die voorheen ou poskantoor en sy posbusse – waarby die trustfonds aktief betrokke was – het die komiteelede van die Mount Royal-trustfonds besluit dit is tyd dat ook die plaaslike sportgeriewe met ’n nuwe laag verf bederf word.

Die trustfonds, wat al vir jare goeie werk in en om die omgewing van Malmesbury behartig deur die nodige finansiering vir plaaslike projekte beskikbaar te stel, is reeds in 2007 tot stand gebring.

Corlia Spies, die tesourier van die fonds, het aan die begin van die jaar met die inisiatief na vore gekom om die Malmesbury-tennisklub se bane oor te verf. Die opgraderingswerk van die bane is tans onderweg namate tussen die reënweer gewoeker word om die bane weer spoggerig te laat lyk.

Die trustfonds se nuwe projek is ook reeds in sig met betrekking tot ander plaaslike sportgeriewe in die dorp.

Nou lê die rolbalbaan en sy klubhuis voor. Só vertel komiteelid Karin Halvorsen opgewonde.

“Ons is besig met ’n hele paar projekte, waarvan die rolbalbaan en sy klubhuis een is,” voeg Halvorsen by. Sy het op haar beurt met die inisiatief vorendag gekom. Haar gesinslede is ook self kranige rolbalspelers. Sy meen dit is hoog tyd dat die klub aandag geniet.

“Die baan kry baie besoekers van elders wat hier kom speel.”

Die klub het reeds ’n spesiale masjien vir die instandhouding van die baan ontvang, terwyl die walle van die baan in Februarie volgende jaar aandag sal geniet.

“Die walle alleen is ’n massiewe taak op sy eie,” verduidelik Halvorsen.

Intussen word die klubhuis kort ná die skoolvakansie aangepak en opgeknap. Die kroeg se vloere, die kombuis se plafon en die toilet- en ruskamergeriewe sal intussen oorgedoen word, insluitend in nuwe laag verf op die mure. Nuwe blindings is onder meer aan die orde van die dag.

Die vernuwing sluit verder ’n ordentlike toegangshek by die ingang van die klub se terrein in.

Halvorsen sê die beplande nuwe voorkoms van die klubhuis is stylvol en modern.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article