Die Goedgedacht Trust, gebore op die plaas Goedgedacht, vier binnekort sy 30ste herdenking.
Die trust is in 1993 gestig, met die doel om plaasgebaseerde gemeenskappe in die omgewing van die Weskus en Swartland te ondersteun, uit hul moeilike omstandighede weens armoede op te hef en vir toekomstige welvaart te bemagtig.
Die trust se doelwitte het intussen nie veel verander nie, maar wel gegroei, en is vandag op sy toekomsplanne gefokus.
Mediaverteenwoordigers is die afgelope Vrydag na ’n intieme middagete genooi, wat voorafgegaan is met ’n toer deur die plaas.
Valerie Govender, die nuwe bemarkingsbestuurder van Goedgedacht in sy geheel, het gaste op die toer vergesel, tesame met Pieter Brand, die plaasbestuurder.
Govender en Brand het die gaste met groot opgewondenheid ingelig oor wat tans op die plaas gebeur en waarop die trust hom in hierdie stadium toespits, nuwe doelwitte gedeel en vertel oor talle inisiatiewe en projekte wat in die pyplyn is.
Die projekte waarop onder meer gefokus word en wat letterlik vrugte afwerp, is die Path on to Prosperity-, Care for the Planet- en die Olive Peace Grove-projekte.
Belangstellendes kan binnekort uitsien na die olyfolie-winkel wat die bestuur weer op die been gaan bring, ’n opgeknapte onthaalsentrum, ’n opwindende plaasmark en talle nuwe boerdery-aktiwiteite soos byvoorbeeld hennepvesel-verbouing en vele meer.




