Sal 38 trompoppies by die huis moet bly?
Die moontlikheid dat 38 trompoppies van Malmesbury tuis sal moet bly in plaas van aan die nasionale trompoppie-kampioenskap in Julie deelneem, begin al meer waarskynlik lyk. Hierdie kampioenskap vind vanjaar in Durban plaas.
Toe die trompoppies verlede jaar in Polokwane deelgeneem het, het die junior groep derde geëindig, en die senior groep agtste. Vanjaar het hulle reeds die eerste en tweede plekke in Bolandse kompetisies gewen.
Aangesien R119 000 nog ingesamel moet word (teenoor die R106 000 wat reeds inbetaal is), begin ouers en organiseerders die hartseer scenario oordink – moet hulle dalk alles kanselleer en al die harde werk met die oog op die Durban-kompetisie vaarwel roep?
“Tog hoop ons steeds op ’n wonderwerk – dat ons hulp sal ontvang van mense wat die R7 000 per kind sal kan borg,” sê Jenine Theunissen, die klub se sekretaresse.
“Die Malmesbury-trompoppieklub is ’n gemeenskapsgeoriënteerde organisasie sonder winsoogmerk,” verduidelik Theunissen.
“Hierdie meisies het begin groei en verander sedert hulle met trompoppies begin het. Hulle het as atlete en emosioneel ontwikkel; met waardes en dissipline, want dit is wat ons hulle in hierdie sportsoort leer.
“Ses van ons meisies het vyf jaar gelede saam met die klub as juniors begin; deesdae is hulle in die senior span. Al ses het intussen Bolandkleure verwerf.
“Twee van ons beginners het reeds SA kleure.”
Maar nou lê ’n berg van onbetaalde rekeninge tussen deelname of tuisbly.
“Baie van die kinders kom uit moeilike omstandighede met enkelouergesinne. Ons verwag van elke kind om bydraes met koekverkope of lootjies te lewer, maar in sommige gesinne is die R7 000 bloot onbereikbaar.”
Selfs die onderburgemeester, Anet de Beer, raak aangedaan as sy oor hierdie meisies praat.
“Ek ken die Malmesbury-drummies sedert hul begindae toe hulle op die teerblad voor die woonstelle begin oefen het en kliphard geld ingesamel het om hul eie skoene te kon koop – en skielik wen hulle kompetisies. Hulle is ons eie rags2riches-storie, en hulle het ons nou nodig.”
Enigiemand wat by hierdie projek wil betrokke raak, kan Jenine Theunissen by malmesburymajorettes@gmail.com kontak.





