Runé Lucas, heelagter van Robertson, op pad om sy drie te gaan druk. Hy het vier verdedigers in sy lopie doellyn toe met leë hande in die lug laat gryp. Foto: Norman Evertson


ROBERTSON – Die vriendskaplike rugbywedstryd tussen Robertson Town en Darling RVK was ’n baie opwindende stryd. Die spanne het by tye met sprankelende hardlooprugby vorendag gekom.

Dié wedstryd is Saterdag (25 Februarie) op die Van Zylstraat-sportterrein in Robertson gespeel. Te oordeel na die skare se jubelende reaksie elke keer wanneer die spelers met die bal op loop gegaan het, was dit duidelik dat toeskouers die rugby terdeë geniet het.

Dit was nou wel ’n vriendskaplike wedstryd, maar aan geesdrif, entoesiasme en vurige inklimspel was daar geen tekort nie. Die spanne het mekaar voorlangs behoorlik opgedreun.

Kort nadat Darling afgeskop het om die wedstryd te begin, is ’n strafskop aan hom toegeken wat hy in Robertson se kwartgebied uitgeskop en van die daaropvolgende lynstaan af oor die tuisspan se doellyn gedryf het.

Die skeidsregter, Brian Williams, het egter beslis die bal was in die lug en is nie gedruk nie.

Hierna het die spel vir bykans 30 minute van kwartgebied tot kwartgebied gewissel sonder dat een van die twee spanne `n doellyn kon oorsteek – deels danksy goeie verdediging en andersins weens hanteerfoute aan beide kante.

Nietemin het die tuisspan eerste die telbord aan die gang gekry toe sy skrumskakel, Gershwin Africa, vir sy span se eerste drie deurgedraf het. Collin Willemse (losskakel) het twee punte met sy skopstewel bygevoeg, wat die tuisspan ná sowat ’n halfuur se spel 7-0 laat voorloop het.

Kort voor rustyd het Darling sake egter gelyk gemaak toe sy heelagter, Ryle Daniëls, by ’n volle agterlynbeweging aangesluit, ’n verdediger geklop en daarna pragtig afgerond het. Earl Lewis (binnesenter) se doelskop was tussen die pale om die rustyd-telling op 7-7 te staan te bring.

Ná rustyd het die momentum van die wedstryd in die tuisspan se guns begin swaai.

Minute ná die hervatting van die tweede helfte het die assistent-skeidsregter, Percy Kanko, iets onder Williams (die skeidsregter) se aandag gebring waarna Williams geelkaarte aan twee spelers – een van Robertson en een van Darling – gewys het. Kort hierna het Robertson met ’n aanval vanuit sy eie halfgebied begin. Die bal het flink deur verskeie spelers se hande beweeg. Die spelers wat die bal gedra het, het telkens die hoek waarteen hulle gehardloop het, verander.

Gevolglik was Darling se verdediging heeltemal oorhoeks.

Uiteindelik het die bal weer in Leighton Swarts (heelagter) se hande beland en hy het sierlik oorgeduik om ’n pragdrie af te rond.

Willemse se doelskop het weer die kol getref en die telling het tot 14-7 gegroei.

Darling is later nog ’n geelkaart deur die skeidsregter gewys.

Die besoekers het egter na ’n hoër rat oorgeskakel en die tuisspan onder groot druk geplaas met die een aanval na die ander, maar hert ongelukkig geen deurkomkans gekry nie. Die tuisspan se verdediging was op daardie spesifieke tydstip rotsvas.

Robertson het die knaende aanvalle van Darling afgeweer, waarna Willemse die span van Darling met ’n uitstekende lynskop tot in sy eie halfgebied teruggejaag het.

Die tuisspan het oomblikke later weer balbesit verkry en die bal langs die agterlyn af tot by Runé Lucas (linkervleuel) gevoer.

Dié het sy ore platgetrek doellyn toe. Tydens sy blits-lopie het hy nie minder nie as vier verdedigers gesystap en ’n pragtige drie langs die linkerregoppaal gedruk.

Willemse het weer seker gemaak van die doelskop om die tuisspan gemaklik 21-7 te laat voorloop.

Darling, wat strykdeur deeglik van hom rekenskap gegee en nie ’n oomblik laat slaplê het nie, is laat in die wedstryd welverdiend met ’n onverdoelde drie beloon, wat die eindtelling op 21-12 in Robertson se guns te staan gebring het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article