ASHTON – Robertson Town se kompas is nog op koers vir Boland se Grootuitdaagbeker-top-12-uitspele.
Hy het Saterdag (3 September) sy posisie op die punteleer verstewig nadat hy ’n begeesterde Ashton United op die Cogmanskloof-sportveld 28-23 getroef het.
Rangers en Town, die twee Robertsonse spanne, beklee tans die eerste twee plekke op die punteleer van die Grootuitdaagbekerkompetisie in die Breë-Langebergafdeling.
Die kragmeting op Ashton was genadeloos, maar opwindend en aanskoulik.
Die spanne het aanvalle van enige plek op die veld af van stapel gestuur. Die spelers het selfs ’n keer of wat uit hul onderskeie 22-meter-gebiede – die sogenaamde rooi sone – met die bal gehardloop.
Ses drieë is in die proses gedruk – drie aan elke kant.
Daarby het albei spanne se losskakels ook met ’n skepdoel geslaag.
Tikskoppies is ook elke nou en dan geneem om mekaar te probeer uitoorlê of onverhoeds te betrap. Beide spanne het werklik alles in die stryd gewerp om met die louere weg te stap.
Ashton het uit die staanspoor groot druk op Robertson toegepas.
Sy eerste drie het juis gekom nadat hy die besoekers met optel-en-dryf-stormlope onder druk geplaas het.
Die bal is toe na agter gespeel waar Anrich Nelson (heelagter) dit ontvang en met ’n bollemakiesie-aksie in die regterhoek oorgeduik het.
David Wagenaar (binnesenter) se geslaagde doelskop het Ashton met 7-0 laat voorloop.
Kort hierna is Ashton vir onkant spel gestraf. Collin Willemse, Robertson se losskakel, het pale toe gekorrel en die strafdoel tussen die pale deur gestuur vir sy span se eerste punte (telling 7-3).
Ashton se haker is ’n paar minute later ná ’n gevaarlike duikslag op ’n Robertson-speler met ’n geelkaart van die veld af gestuur.
Mickyle Snyders (losskakel) het hierna Ashton se voorsprong met ’n skepdoel na 10-3 gerek.
Sowat vyf minute later was Ashton weer sterk op die aanval in Robertson se kwartgebied. Robertson het ’n oortreding begaan en is gestraf.
Pleks van pale toe skop, het Ashton ’n vinnige tikskoppie gewaag en Neven Lukas (flank) het vir sy span se tweede drie oorgeval. Die doelskop was mis (teling 15-3).
Kort voor rustyd het Robertson sy agterstand egter met ’n vyfpunter verklein toe hy het sy eerste drie behaal het nadat hy uit sy eie kwartgebied met ’n aanval begin het.
’n Tikskoppie is vinnig geneem en die span het begin hardloop. Nadat verskeie spelers die bal hanteer het, het dit Juandré Joseph (heelagter) bereik. Joseph het rieme neergelê doellyn toe en is met twee Ashton-verdedigers wat hom probeer stuit het, oor die doellyn.
Die doelskop was mis en die spanne het met die telling 15-8 in Ashton se guns ’n blaaskans geneem.
Ashton het vir ’n groot deel van die wedstryd ’n stewige greep op die spel gehad.
Net ná rustyd het Andrew Williams (haker) vir Robertson gaan druk. Willemse was in die kol met die doelskop en die spanne het gelyk getrek (15-15).
Nie lank hierna nie het Ashton egter weer die voortou geneem toe sy linkervleuel, Wesley Abrahams, gaan druk het. Die drie is egter eers toegeken ná konsultasie tussen die skeidsregter en lynregter nadat Abrahams kort voor die doellyn en baie na aan die kantlyn platgeduik is en hy hom uitgestrek het om die bal agter die doellyn te plaas.
Die moeilike doelskop van teen die kantlyn af was mis, maar die telling 20-15 vir Ashton.
Met speeltyd wat besig was om vinnig uit te loop, het Willemse weer sy span se agterstand met ’n suksesvolle strafdoel verklein en die telling 20-18 gemaak.
Die keerpunt in dié titaniese stryd het gekom toe Robertson se klein, bonkige linkervleuel, Ceanan Marcus, sowat ’n kwartier voor die einde gaan druk het.
Willemse se doelskop was tussen die pale deur en toe eers kon Robertson daarin slaag om sy neus die eerste keer voor te kry (25-20).
Kort hierna het Willemse `n skepdoel oorgeklits om die wedstryd buite bereik van Ashton te probeer plaas.
Ashton het egter nie bes gegee nie en kwaai teruggeveg.
Robertson het met sy verwoede keerwerk ’n oortreding begaan en is gestraf, waarna Wagenaar die strafdoel tussen die pale deurgeklits het.
Speeltyd was egter verby en Robertson het die knoop 28-23 deurgehak.




