Terwyl die Springbokke die All Blacks Saterdag ordentlik afgeransel het, het Suid-Afrika se o.23-toutrekspan in die 600kg-afdeling hul opposisie by die Wêreldkampioenskap uitgestof en daarmee ’n goue medalje verseker.
Dit beteken Suid-Afrika se toutrekspanne bring twee goue medaljes huis toe nadat Oakdale as klub in die ope afdeling ook ’n eerste plek verower het.
Malmesbury se Casey Pietersen (19) het Suid-Afrika in al twee spanne verteenwoordig (“Reg vir toutrek”, Swartland Gazette, 3 September 2024).
“Toe ons Saterdag vir die eindronde op die hoofveld opstap, was ons nie die swaarste span nie, maar ons was hónger om te wen; ons wou onsself en ons families trots maak,” het Casey Sondag uit Mannheim vir Gazette vertel.
“Ons het voor elke trek gesorg dat ons ordéntlik onder die opponente se koppe kom; hulle moes heeltyd weet hulle het te doen met manne wat ernstig is om te wen! Hier in die eindronde kon ons sien hoe hulle uitmekaar begin val. Ek voel trots om deel van hierdie o.23-span te wees; ons het hard baklei en hard gewerk hiervoor.
“Die oomblik toe die eindfluitjie blaas en ons besef Suid-Afrika het vir die heel eerste keer die 600kg-o.23-afdeling op internasionale vlak gewen, het die hele wêreld rondom my vervaag. Al die twyfel, die gewonder of ek my toutrekskoene moet uittrek, die laataandritte, toewyding en opofferings vir oefeninge en byeenkomste, die stres en die klompie kilogramme wat ek verlede week nog moes verloor . . . alles het verdwyn en ’n warboel emosies het my oorweldig.
“Die manier waarop ons mekaar ondersteun het, ons tegnieke, stamina en goeie afrigting het ons tot hier gebring.
“Elkeen van hierdie finale trekke was ’n taai trek en het nie mooi gelyk nie, maar ons kom met twee goue medaljes huis toe, en niemand kan dit van ons af wegvat nie.”





