’n Astronomiese vyf persent van die land se lêhenne is teen vandeesweek van kant gemaak.

Die persentasie kom neer op sowat 1,2 miljoen lêhenne in die omgewing van die Paardeberg en Paarl alleen nadat positiewe gevalle van voëlgriep op 21 April verlede maand op die eerste plaas aangemeld is.

Die Wes-Kaapse veeartsenydienste het pluimveeboere gewaarsku dat voëlgriep op twee kommersiële plase in die Paardeberg-omgewing tussen die Paarl en Malmesbury aangeteken is. Die provinsie se veeartsenydienste het intussen bevestig dat vyf plase nou met die virus besmet is.

Dr. Marie Oosthuizen, ’n veearts betrokke by die vark- en hoenderbedryf in Suid, Afrika sê boere het altesaam 24 miljoen lêhenne in die land voordat sowat 5% daarvan nou weens die virus uitgewis moes word.

Oosthuizen brei uit oor die afgelope paar jaar waartydens voëlgriep in 2018, 2021, die einde van 2022 en nou aan die begin van 2023 in die land aangetref is.

Hoewel die presiese stam betrokke nog nie bekend is nie, meen Oosthuizen die voorkoms van dié virus in die provinsie is hoog. “Daar is ’n hoë patogenisiteit van voëlgriep wat nie net wêreldwyd nie, maar ook gedurende 2022 en vroeër in 2023 in Suid-Afrika aangetref is. Daar is dus hoë ladings van die virus in die Wes-Kaap, wat ook veral onder seevoëls opgespoor is,” voeg sy by.

Voëlgriep word hoofsaaklik deur wilde voëls versprei. Die virussiekte word ook nie slegs deur direkte kontak tussen gesonde voëls en besmette voëls of indirekte kontak met besmette toerusting of materiaal versprei nie, maar deur die lug ook.

“Die groot probleem rakende die verspreiding is dat die virussiekte ook deur die lug trek. Lêhenne word in oop hokke aangehou vir ventilasiedoeleindes – beter bekend as omgewingsbeheerde hokke – en dit is dus basies nie voorkombaar nie. Die bedryf hou ’n hoë risiko in met die ontsettende hoë lading van wilde voëls wat met die virus besmet is. Dié uitbreking is gewis nie weens nalatigheid nie,” voeg sy by.

Paardeberg het die grootste konsentrasie teelplase van lêhenne. Daar is steeds hokke tussen die besmette plase wat nog nie deur die virussiekte besmet is nie.

Alle stappe om verspreiding te keer, was tot dusver suksesvol, bevestig Oosthuizen.

Volgens haar het die prys van eiers nog nie gestyg nie.

“Op die oomblik het die groot kommersiële ondernemings nog voorraad, maar die bedryf gaan dit binnekort in die Wes-Kaap voel.”

Dit is nog slegs die lêhenne wat geaffekteer is en nie die braaikuikens nie. Kuikens wat ook in die omgewing grootgemaak word, se hokke is in hierdie stadium nie besmet nie, het sy beaam.

“Die bedryf kan nie weer so ’n uitbreking bekostig nie – veral nie kleiner produsente nie. Die feit dat hulle met omgewingsbeheerde hokke werk, maak hulle basies ’n “sitting duck”.

Oosthuizen het bevestig dat die virus tot dusver nog nie verder versprei het nie. “Dit blyk die veiligheidsmaatreëls word doeltreffend toegepas.”

Die provinsie se veeartsenydienste het op hul beurt bevestig dat die getal lêhenne wat intussen besmet en van kant gemaak is, tot 1.4 miljoen toegeneem het.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, is dit eens dat ondersteuning deur die regering dringend nodig is vir dié bedryf om te oorleef. “Die enigste aksie wat deur die bedryf geneem kan word, is om die lêhenne van kant te maak en die nodige stappe te doen om te voorkom dat die virus verder versprei.”

Die minister van landbou in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, het bevestig die virussiekte hou in hierdie stadium geen risiko vir mense in nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article