Met al die rugby-klubkompetisies van die verskillende rugbyunies nou agter die rug, spook die topspanne van die 15 rugbyunies dit in die 2026- Pick n Pay- Goue Beker uit.
Hierdie naweek pak die agt oorblywende spanne mekaar in die Pick n Pay- Goue Beker-kwarteindrondes van die noordelike en suidelike afdelings.
Die verdedigende kampioen, die Naka Bulle, het in sy eerste twee rondes (32 en 16) naelskraapse oorwinnings oor die SK Walmers (43-36) en Centurion (46-45) behaal en kan hierdie Saterdag in Pretoria gewis strawwe teenstand in die kwarteindstryd teen Randfontein in die Noordelike afdeling verwag.
Northam Rhinos, wat ook sy ronde-32- wedstryd teen Nelspruit met 62-7 gewen het, het ook na die kwarteindstryd deurgedring toe hy Northam Wolves 42-24 geklop het en kom nou teen Brakpan op die Bosmanstadion in Brakpan te staan.
Durbanville-Bellville (Durbell) het weer eens die rugbypubliek met hul kragtige spel verras toe hulle eers met Oos-Londen Polisie in Oos-Londen (38-24) in ronde 32 afgereken en toe die WP-kampioen, Villagers, verlede Saterdag in Brookside met 32-27 getroef en na die kwarteindstryd teen Roses United deurgedring het.
LEES OOK: Dur-Bell shock Villager as Gold Cup delivers knockout drama
Roses United het ook die Boland-rugbyunie se vlag laat wapper toe hy eers Groot-Brakrivier met 48-21 gelooi en toe met Polisie se manne van Bloemfontein (24-17) afgereken het, wat hulle ‘n tuis kwarteindstryd teen Durbanville-Bellville danksy ‘n beter puntegemiddelde besorg het. Kykers kan dus uitsien na ‘n opwindende wedstryd Saterdag in Wellington tussen Boland en WP se naasbeste spanne in hul ligas.
Hoewel Saldanhabaai met 32-30 teen Pacalsdorp Evergreens gewen het, was hy nie so gelukkig teen Gardens van Uitenhage nie en het daar met 27-22 vasgeval, wat hul wedloop in die Goue Beker beëindig het.
College Rovers het ook goed in ronde 32 afgeskop toe hy Kimberley met 89-5 geklop het. Verlede Saterdag het hulle die Durban Crusaders met 44-8 gelooi en na die kwarteindronde teen Gardens van Uitenhage in Durban deurgedring.
Ná eerskomende naweek sal die Boland en WP weet wie die beste Wes-Kaapse klubkampioen is nadat Roses United en Durbanville-Bellville mekaar in Wellington die stryd aansê, terwyl die Haaie se topspan van Kwa-Zulu Natal, die College Rovers, en die OP se Gardens van Uitenhage mekaar in Durban pak om te bepaal wie die Ooskus beheer.
Kwarteindstrydbepalings vir Saterdag 10 Oktober:
Noordelike afdeling
Naka Bulle t. Randfontein – Pretoria
Northam Rhinos t. Brakpan – Brakpan
Suidelike afdeling
Roses United t. Durbanville-Bellville – Wellington
College Rovers t. Gardens – Durban



