Die opwindende Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbeker-Top-12-uitklopwedstryde het sy laaste pylvak bereik met die eersterondewedstryde wat Saterdag 21 Oktober op die verskillende rugbyvelde van die 12 deelnemers afskop.
Rugby-geesdriftiges kan hulle gerus gereed maak vir een van die grootste gebeurtenisse in Boland-rugby.
Alle rolspelers is die afgelope Saterdag (30 September) deur die Boland-rugbyunie by Klub Mykonos bymekaar gebring om die finale logistieke van die 2023-Top-12-Grootuitdaagbeker- en streek-eindrondes te bepaal.
Quinton van Rooyen, die uitvoerende hoof van die Boland-rugbyunie, en uitvoerende bestuurslede het alle rolspelers van die Top-12-rugbyklubs by Klub Mykonos by ’n inligtingbeplanningsessie verwelkom.
Die sewe weke rugby-skouspel eindig op 2 Desember op die Boland-stadion in Wellington, waar al die eindstryde plaasvind, met die Top-12-Grootuitdaagbekereindstryd as die hoogtepunt.
Verlede jaar se Grootuitdaagbekereindstryd is met strafskoppe beslis nadat dit ná gewone en ekstra tyd tussen Saldanha en Bella Vista gelykop geëindig het.
Saldanha het Bella Vista in ’n rillerstryd strafskoppe geklop om as Boland-rugbyunie se 2022-Top-12-kampioen gekroon te word.
Rugbygeesdriftiges kan hulle weer gereed maak vir die beste en opwindende rugby op ’n vuurwarm Boland-rugbystadion.



