Emsie Brand (15), ’n leerder aan die Hoërskool Swartland in Malmesbury, het vinnig gewys dat ysige watertemperature haar nie afskrik nie.
Emsie het die afgelope jaar puik swemprestasies in opewater-swemmarathons behaal, wat sy onder meer in die see afgelê het.
Brand woon sedert 2017 saam met haar ouers op Riebeek-Kasteel. Haar ma, Cornel, vertel haar eerste blootstelling tot die swemwêreld was swemlesse in Citrusdal voordat hulle na die Swartland verhuis het. Sy het toe kort daarna by die Swartland-swemklub aangesluit. Sy het aanvanklik aan swemgalas begin deelneem totdat haar afrigter, Jessika Janse van Rensburg, haar aan opewater-swemmarathons bekendgestel het.
Volgens Cornel kom Emsie se liefde vir die see egter reeds van ’n jong ouderdom af ná gereelde see- en visvanguitstappies.
Hoewel Emsie steeds aan swemgalas in die swembad deelneem, verkies sy opewater-swemmarathons. “Ek voel vry wanneer ek daaraan deelneem. Daar is ook nie so baie druk soos in die swembad nie,” vertel Emsie.
Sy het die eerste keer op 11-jarige ouderdom aan ’n opewater-swemmarathon, die Lomond-swemmarathon by Gansbaai, deelgeneem. Die gogga het daar en dan gebyt en haar liefde vir dié sport het gegroei.
Die afstand het ook intussen toegeneem. Brand het op 22 April aan die Chapman’s Peak Meander van 1,6 km in 12 °C deelgeneem en ’n algehele vierde plek en ’n ongelooflike tweede plek onder vroue in 26 minute en 38 sekondes aangeteken. Kort daarna het sy die Walker Bay Outdoor Adventure-swemmarathon in Hermanus aangedurf en 2,5 km in 41 minute in ysige seewater afgelê en die vyfde plek behaal. Die vier voorlopers het egter in duikpakke geswem terwyl sy die uitdaging in slegs haar swembroek aangepak het.
Volgens Emsie verkies sy damme eerder as die see, bloot “omdat die water nie so koud is nie”, lag sy. Sy en haar afrigter beoog om eersdaags aan die Robben Island Crossing, wat deur Bigbay Events gereël word, deel te neem. Die geleentheid, wat ’n afstand van 7,9 km van Robbeneiland tot Bloubergstrand behels, sou reeds verlede week plaasgevind het, maar weens koue watertemperature en ongunstige weerstoestande is die uitdaging vir eers uitgestel.
“Ons gaan hopelik hierdie week daaraan kan deelneem,” voeg sy by.
Emsie gaan die uitdaging saam met haar afrigter, wat dié spesifieke langafstand swemmarathon reeds drie keer in die verlede afgelê het, aanpak.
Emsie het op ’n vraag of die gevaar van haaie haar nie afskrik nie, geantwoord sy dink tydens só ’n geleentheid net daaraan om klaar te maak en sy hoop hulle sal van haar af wegbly, skerts sy.





