Texas Mumbiro (29) met sy Tuk Tuk-driewielmotorfiets.


Texas Mumbiro (29) het in 2019 met slegs ’n R20 in sy sak in Malmesbury aangekom. Vandag besit hy sy eie tuindienste, beter bekend as Mowgo Tuindienste.

Mumbiro het op 1 Januarie 2019 uit Zimbabwe in Johannesburg aangekom met die hoop op ’n inkomste om na sy familie om te sien.

Hy noem homself die broodwinner van die familie.

Ná slegs twee maande in Pretoria het hy Malmesbury toe getrek, waar sy suster Jane reeds ’n geruime tyd gewoon en werk het.

Hy het dadelik tussen die talle ywerige dagwerkers, wat hulself daagliks in Bokomoweg bemark, begin werk soek.

Mumbiro het vir die eerste paar maande ’n geleentheid gekry om vir onder meer ’n tuindienste-onderneming te werk en kort daarna as seisoenwerker op ’n nabygeleë plaas.

Die salarisse was eenvoudig net te min om vir sy gesin en die res van sy familie in Zimbabwe te sorg. Hy het destyds ’n vrou en kind gehad, wat in Zimbabwe agtergebly het.

Die jong Mumbiro het na Bokomoweg teruggekeer om werk te probeer kry en was bereid om enigiets vir ’n aanvaarbare inkomste te doen. “Dit was nie maklik nie,” erken hy. Hy het vyf maande sonder werk gesit.

Sy suster het ingespring en haar werkgewer, Anel Conradie, gevra om haar broer werk in die tuin te gee. Conradie het Mumbiro op haar beurt met ander inwoners verbind wat hom ook tuinwerk gegee het.

Sy lewe het ’n wending geneem toe hy een middag besluit het om ’n ruskans te neem toe sy werkgewer skielik by die huis aangekom het. Hy het vinnig na ’n pen en ’n boekie gegryp om te maak of hy besig was om iets te skryf. Nadat sy hom gevra het wat hy doen, het hy gejok en gesê hy is besig om haar bure wie se tuine nie so goed lyk nie, se adresse neer te skryf.

Conradie het toe besluit sy sal vir hom besigheidskaartjies laat druk sodat hy dit in inwoners se posbusse kan gooi, en nie lank daarna nie het tuinwerk begin instroom.

Mumbiro vertel hy het egter geen toerusting van sy eie gehad nie, en dit was ’n uitdaging op sy eie. Dit was danksy die inwoner James Waugh wat Mumbiro genoeg vertrou het om sy tuingereedskap aan hom te leen.

“Ek het sy gereedskap in 2023 begin gebruik. James het gesê ek moet hard werk en my dienste volhou omdat hy geglo het ek kan nog ver kom in die lewe,” dink hy terug.

Mumbiro, wat in Ilingelethu woon, het daagliks gesukkel om sy gereedskap by sy kliënte te kry.

Hy het hom toe na YouTube gewend om te kyk of daar ’n oplossing in die vorm van ’n waentjie is. Waugh en sy broer, wat ’n werkswinkel in Kraaifontein het, het Mumbiro later gehelp om ’n waentjie vir sy fiets te bou, wat dit makliker sou maak om sy gereedskap te vervoer. “Aan die begin het dit goed gewerk, maar die bande het heeltyd gate gekry, wat beteken het ek moes die bande keer op keer vervang.”

Hy het weer op die internet gaan soek en op ’n driewiel-Tuk Tuk afgekom. Mumbiro sê hy het toe al vir lank sy geld gespaar, ongeag die uitdagings om te oorleef.

Waugh het hom weer gehelp om die driewiel-motorfiets met genoeg laaiplek vir sy gereedskap op 18 Januarie vanjaar aanlyn te koop. Mumbiro het intussen ook sy eie petrol-aangedrewe tuintoerusting gekoop.

“Ek het nie meer nodig om kliënte se toerusting of krag te gebruik nie,” vertel hy trots.

Sy kliëntebasis het só gegroei dat sy vrou en nou drie kinders ook in Malmesbury kom bly het.

Volgens Mumbiro gaan dit goed met die besigheid, maar hy soek altyd nog werk. Hy is steeds verantwoordelik vir sy ouma wat in Zimbabwe woon, wat mediese onkostes het.

Mumbiro het selfs ’n tuinboukursus aanlyn voltooi waarop hy baie trots is.

Vir nou maak hy seker hy lewer die beste diens, maak nie saak wat die werk is nie. “Ek sal onkruid uittrek as dit moet. Ek is oop vir enigiets.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article