Van links is Brian Siebritz, die voorsitter van Malmesbury Sakekamer, by dr. Petrus Venter en sy vrou, Annette, en Hanlie van Wyk (Sakekamer-sekretaresse). Foto: Sarie Nell

Sarie Nell

Tydens Malmesbury Sakekamer se Derde Dinsdag-byeenkoms op 19 Maart het dr. Petrus Venter van Malmesbury oor sy PhD-studies gesels en enkele navorsingsresultate aangebied.

Venter het sy doktorstudies kort ná sy aftrede aangepak.

Dinsdag het hy die proses verduidelik waardeur hy moes gaan om te kwalifiseer en uitgewei oor die navorsingsmetodiek wat hy gevolg het.

In sy studie oor “A framework for a generic retail charter in South Africa” het hy ’n raamwerk ontwikkel wat bestuurders van sakeondernemings in die kleinhandel asook enige ander onderneming kan gebruik om die ondersteuning van hulle belanghebbers te verkry en te behou. “Geen onderneming kan volhoubaar suksesvol wees as hulle nie die ondersteuning van hulle belanghebbers kry en behou nie,” het hy gesê.

“Almal wat op die een of ander wyse direk of indirek deur die bestaan van ’n onderneming geraak word, is ’n belanghebber (stake holder). Dit sluit in verskaffers, personeel, die topstruktuur en klante en kliënte van die onderneming,” het hy verduidelik. “Wanneer die belanghebber ’n negatiewe ervaring beleef, is dit moontlik dat hy/sy negatief daarop kan reageer. Dit kan skade aan die onderneming veroorsaak en selfs die onderneming se voortbestaan bedreig. Daarteenoor kan ’n tevrede belanghebber ’n groot positiewe bydrae tot die sukses en voortbestaan van die onderneming lewer.”

Die proefskrif asook die akademiese artikel wat Venter geskryf het, kan deur die bestuur van enige sakeonderneming bestudeer en gebruik word om sy eie unieke sakehandves te ontwikkel.

Die inhoud is gratis beskikbaar; die proefskrif kan afgelaai word by https://etd.cput.ac.za/handle/20.500.11838/3803 en die artikel ‘A Framework for a Generic Retail Charter: A Guide towards Sustainability and Stakeholder Support’ by https://doi.org/10.3390/su142315848

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article