’n Voertuig wat vermoedelik rou riool onwettig in ’n stroom naby Drommedarisstraat in die omgewing van Moorreesburg gestort het, is deur bekommerde inwoners raakgesien en afgeneem.

Credit: Maryke Swart

Inwoners van Moorreesburg het onlangs hul bekommernisse laat hoor nadat ’n vragmotor gesien is waar dit vermoedelike rou riool in ’n stroom in die omgewing stort.

Die verskynsel is glo deur verskeie inwoners gesien toe riool naby Drommedarisstraat in die omgewing van Hooikraal gestort is.

Die organisasie Capexit, ’n organisasie sonder winsoogmerk, is deur sommige van sy lede van Moorreesburg oor die voorval genader. Volgens Des Palm, die uitvoerende hoof van die organisasie, het inwoners hul misnoeë na die Swartland-munisipaliteit geneem vir antwoorde. “Ons lede is glo meegedeel die plaaslike rioolsuiweringsaanleg kan nie die hoeveelheid rioolafval hanteer nie,” sê Palm. Hul lede het verder verneem dat die storting na bewering binne ’n stormwaterlyn plaasvind.

Die munisipaliteit het in sy reaksie op navrae oor die voorval beklemtoon dat die storting van rou riool in riviere en of enige plek behalwe by die rioolsuiweringswerke teen die wet is.

“Die munisipaliteit se riooltenkwa-dienste suig en verwyder ongeveer 700 septiese tenke per maand leeg, waarvan ongeveer 50 in die Moorreesburg omgewing geleë is. Die tenkwaens stort alle rioolvragte by die naaste rioolsuiweringswerke,” het die munisipaliteit in sy terugvoering gesê.

Vir die vragte wat in die Moorreesburg-omgewing getrek word, word riool by die nuut opgegradeerde twee-megaliter-aanleg, wat sedert April 2023 ten volle in werking getree het en dus voltooi is, gestort.

In die geval van verstoppings waar riool uit mangate loop, hanteer die munisipaliteit die verstopping as ’n saak van dringendheid om die storting tot ’n minimum te beperk, verduidelik die munisipaliteit verder.

Die munisipaliteit doen ’n beroep op alle inwoners om enige verdere inligting oor die beweerde rioolstortingsvoorval by die munisipaliteit aan te meld sodat die geval met erns ondersoek kan word.

Die munisipaliteit voeg by dat die publiek ook gebruik maak van private kontrakteurs wat riool verwyder.

Dié diensverskaffers is aan dieselfde wetgewing onderworpe en moet ook alle riool by die naaste rioolsuiweringsaanleg stort, brei die munisipaliteit uit.

Indien enige ongerymdhede plaasvind of enige onwettige optrede vermoed word, kan die Siviele Ingenieursdirektoraat by 022 487 9400 in kennis gestel word.

Inwoners wat ongerymdhede sien, word versoek om die munisipaliteit dadelik te skakel met so veel as moontlik besonderhede van die betrokke voertuig wat die wet oortree het.

Foto’s en nommerplate sal help en alle inligting sal vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article