“Die tekort aan strategiese entstowwe in die vee- en dierebedrywe het nou ’n ramptoestand in die rooivleisbedryf veroorsaak.”

Só sê die voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), James Faber, in ’n verklaring wat Vrydag uitgereik is.

Volgens hom ly kommersiële en opkomende produsente nou ernstige verliese weens bloutong uitbrekings wat tot 50 % vrektes onder kuddes veroorsaak.

Afrika-perdesiekte maai ook onder perde en donkies wat ’n ondersteunende rol speel in die produksieproses van rooivleis.

Die RPO het gewaarsku en voorspel dit sou gebeur weens die tekort aan voorsiening van sekere entstowwe wat slegs deur Onderstepoort- Biologiese produkte (OBP) geproduseer word.

“Dit is tragies dat dit voorkom kon word indien die voorgestelde haalbare aksiestappe deur die owerheid geneem is. Die owerheid het die bedryf in die steek gelaat”, sê Faber.

Volgens hom is dit ironies dat die bedryf nou maatreëls en strategieë instel hoe om sonder die entstowwe te produseer.

Ten spyte van die RPO se advies daarteen, wend sommige produsente hulle nou tot die gebruik van onwettige ongeregistreerde entstowwe, wat groot risiko’s inhou.

Hy sê verder die RPO ondersteun die aksies van die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF), waarvan hy lid is. Die aksies het ’n ope gesprek met die minister van landbou op 30 Maart ingesluit. ’n Subkomitee is by dié vergadering aangestel om spoedeisend voorstelle te maak wat die minister moes adviseer en ’n sperdatum van 28 April is hiervoor gestel.

Op navraag aan die NDGF het die komitee nie vergader nie ten spyte van verskeie navrae vanaf die forum. “Die gebrek aan dringendheid deur die owerheid is uiters frustrerend vir die RPO. Die traagheid om die nodige voorgestelde regstellende aksies te neem, ondermyn die doelstellings van die AAMP (Agriculture Agro-processing Master Plan) en het ernstige dierewelsynimplikasies, wat ook risiko’s vir menslike gesondheid inhou,” verduidelik Faber.

Die forum het namens die vee- en dierebedrywe die behoeftes-telling vir entstowwe al by verskeie geleenthede gedoen en oplossings voorgestel, wat onder andere insluit dat entstowwe deur meer as een diensverskaffer geproduseer moet word ten einde risiko te verdiskonteer en mededinging te verseker. Nog voorstelle sluit in dat die kapasiteit by die kantoor van die registrateur van Wet 36 verhoog moet word om registrasie-aansoeke vinniger te prosesseer. Dieselfde beginsels geld vir Wet 35-aansoeke. Sekere entstowwe kan met behulp van die private sektor geproduseer word of in lisensie namens OBP geproduseer word.

Die RPO versoek dringend dat die oplossings nou deur die owerheid afgekondig en binne spoedeisende tydslyne geïmplementeer moet word.

“Hoewel dit reeds te laat is, moet alles moontlik gedoen word om nasionale pandemies te verhoed,” sê Faber.

Die RPO het benadruk dat in belang van voedselsekuriteit, armoedeverligting, menslike gesondheid, uitvoerstrategieë en dierewelsyn, meer drastiese stappe geneem sal word indien nodig om te verseker dat dié kwessie so gou as moontlik opgelos word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article