Kommer heers ’n geruime tyd reeds onder landsburgers namate gerugte en koerantopskrifte oor ’n tekort aan slangteengif in die land die ronde doen.

Inwoners van die Swartland kan egter gerusgestel word dat geen tekort aan teengif tans in die Weskusdistriksarea ondervind word nie.

Leensie Lötter, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid vir die Swartland-hospitaal en die Weskus-distrik, sê egter hoewel voorraad beskikbaar is, hou hospitale in dié distrik as ’n reël slegs ’n beperkte voorraad slangteengif vir slange aan. Die teengif is hoofsaaklik vir slangbyte van slange wat algemeen in die omgewing voorkom, soos kobras en adders. Vir ander slangsoorte, soos boomslange, wat wel ook in die Swartland en die Weskus voorkom, word ’n ander soort teengif benodig, waarvoor spesiale reëlings getref behoort te word.

“Die rede hoekom beperkte voorraad aangehou word, is omdat die teengif baie duur is en ook omdat die rakleeftyd van teengif baie beperk is,” verduidelik Lötter.

Indien slangteengif benodig word, kan by ander mediese fasiliteite soos die Tygerberg- of Groote Schuur-hospitaal aangevra kan word, aangesien dié hospitale gewoonlik voorraad het.

Die bestuurder van apteekdienste in die Weskus-distrik het ook aan Gazette bevestig die Weskus en die Swartland-sub-distrik ervaar tans geen tekort aan teengif-voorraad nie.

Die Swartland-hospitaal se kliniese bestuurder het aangedui hulle kry wel gevalle van slangbyt in die somer. Die gemiddelde statistiek vir slangbyte is een tot twee keer ’n jaar. Baie meer gevalle van skerpioensteke as slangbyte word aangemeld, wat hulle eerder by die noodeenheid by die Swartland-hospitaal besig hou.

Lötter benadruk dit is belangrik om te onthou die teengif is nie ’n “towerdrankie” nie en is nie noodwendig lewensreddend nie.

“Teengif behoort nie vir enige slangbyt en voor die voet gebruik te word nie. Dit is slegs doeltreffend in tien verskillende soorte slanggif. Geen teengif is byvoorbeeld meer vir ’n bergadder se byt beskikbaar nie. Teengif-toediening loop ook altyd die gevaar van ’n allergiese reaksie, soos anafalakse, wat lewensbedreigend is,” verduidelik sy verder.

“Die teengif kan daarom slegs by ’n hospitaal of ’n fasiliteit wat ingerig is om mediese noodgevalle te hanteer, toegedien word. Teengif sal ook nie asemhalingsprobleme by neurotoksiese byte soos byvoorbeeld dié van ’n kobrabyt of weefselskade (sitotoksiese by die van ’n pofadder) stop of omkeer nie, maar kan wel die skade beperk. In die geval van neurotoksiese byte (Kaapse kobra en mamba) moet die pasiënt onmiddellik na die hospitaal geneem word aangesien intubasie en ventilasie benodig gaan word, hetsy die teengif toegedien word of nie, herinner sy inwoners.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article