In die Goue Aar-tehuis vir bejaardes in Malmesbury, waar 65 inwoners daagliks versorg word, kyk die programbestuurder na die hoogte- en laagtepunte van dié tehuis, wat reeds 44 jaar lank die omgewing se bejaardes versorg.
Leon Venter is in Julie 2018 as die tehuisbestuurder aangestel.
“Die pandemie was sekerlik ons grootste enkele uitdaging met harde werk om Covid-19 van ons deur af weg te hou. Toe die virus wel inglip, was die druk op ons personeel groot; die hartseer oor elke inwoner wat siek geword het, nog groter.”
Nadat die hele pandemie deurgesien is en inwoners weer uit hul kamers kon kom en mekaar weer in die eetsaal sien, was die vreugde uitbundig. “Ná ’n moeilike pad vol pandemie-hobbels kon ons weer geleidelik na die gewone roetine terugkeer, maar ongelukkig het die pandemie ons geldsake in ’n ongemaklike situasie gelaat. Baie familielede kan nie meer die broodnodige bydraes lewer om die volle bedrag te betaal nie; slegs enkele familielede probeer nog hierdie bydraes lewer, al kom dit nie maklik nie.
Hy verwys na die probleme wat Goue Aar die afgelope paar jaar ondervind om sy inkomstes en uitgawes te laat klop. “Bedryfskostes wat aanhoudend styg, plus die aantal families wat sedert die pandemie nie meer hul familielede met doeke of selfs Vaseline kan ondersteun nie, laat die vrese dat ons dalk sal moet sluit, elke maand al harder aan ons deur klop. Intussen moet ons deesdae self inwoners met ons bussie (en duur brandstof) na Kaapse hospitale vervoer, want ambulansdienste kan nie meer daardie taak ten volle ondersteun nie.”
Hoewel niemand wil sien dat 65 verswakte inwoners sonder versorging moet wees as die tehuis wel sluit nie, lyk dit al meer na ’n moontlikheid.
“Dan sal 48 personeellede se inkomste ook in die slag bly. Die profiel van die bejaardes het sedert 2018 drasties verander,” sê Venter. “Namate hulle ouer word, het die meeste inwoners se vermoë om hulself te versorg, drasties verminder. Dit verg outomaties meer personeel om hulle te versorg – al twee ons dagskofte en nagskofte moes vergroot word, met verdere druk op ons geldsake.”
“Altesaam 38 van ons inwoners is rolstoelgebruikers; 42 is van volwasse doeke afhanklik. Die families van 47 inwoners kan nie die addisionele maandelikse bybetalings betaal nie. Dit veroorsaak groot maandelikse tekorte.
“Dit is baie belangrik dat die gemeenskap eienaarskap van die tehuis neem en ons geldinsamelings aktief ondersteun.”
Vorige pogings om geld in te samel, help die tehuis reeds maande lank om staande te bly.
“Toe ons verlede jaar swaar deur beurtkrag getref is, het geldinsamelings gehelp dat ons ’n omsetter (inverter) kon koop. Verskeie organisasies se reddingsboeie het ons verlede jaar uitgehelp. Ons vergader gereeld met rolspelers in die gemeenskap. Hulle is simpatiek en ondersteunend, maar vir die dilemma van rekeninge wat betaal moet word, het ons geen maklike oplossing nie.”
Venter het self ’n kursus oor geldwerwing voltooi en probeer nou op daardie manier meer geld insamel.
“Intussen help dit baie as gemeentes en indiwidue skenkings vir doeke en toiletware stuur. Die dorp se twee apteke kanaliseer ook doeke na ons toe wanneer simpatieke kliënte skenkings vir doeke doen.
“Waarom ek hiermee aanhou, al voel dit baie kere of die skip wil sink? Elke oggend as pasversorgde inwoners kort ná ontbyt in hul rolstoele na ’n sonkolletjie hierbuite gestoot word sodat hulle – versorg en tevrede – kan gesels en luier, ’n bietjie lag en hul laaste dae in vrede deurbring – dít laat my aanhou.
“Wanneer ek sien hoe ’n klompie inwoners eienaarskap van die groentetuin neem en dit self versorg; hoe een van ons oudste inwoners haar dae daaraan wy om poppies te brei vir uitdeel aan mense wat swaartrek; die vreugde as ’n baie siek inwoner gesond word en terugkom eetsaal toe; die saamstaan onder die personeel ten spyte van ons uitdagings – hoe kan ek dan die skip verlaat?”
Indien enigiemand bydraes in die vorm van doeke, geld of toiletware aan Goue Aar-tehuis wil skenk, kontak manager@goueaar.co.za





