Talle bekommerde ouers in die Breedevallei -en Langebergstreek se kinders het nog nie ’n plek in ’n skool vir vanjaar se akademiese jaar nie.
Hoewel die onderwysdepartement in die Wes-Kaap (WKOD) trots is dat 99% van gr. 1- en gr. 8-leerders reeds plek in ’n skool het, het steeds sowat 680 leerlinge nog nie plek nie.
Brenda Klein van Ashton vertel aan Standard haar kleinseun, na wie sy al van geboorte af omsien, het steeds nie plek in ’n skool nie.
“Ek het al verlede jaar al die vorms ingevul en wag nou nog vir ’n antwoord. Toe die skole begin, het ek gedink om hom maar net na die skool hier naby te neem, want ons bly op die plaas en het geen ander opsie nie. Ons kan nie elke dag inry dorp toe nie. Toe ons by die skool kom, het hulle gesê hulle is reeds vol. Ek het die departement geskakel en wag om te hoor wat ons kan doen. Ek hoop ons kry hierdie week ’n antwoord. Hy moes al begin het.”
Volgens WKOD is laat aansoeke ’n groot rede dat mense nie plek in skole kry nie.
“Ons weet ons sal verdere laat aansoeke ontvang – ten spyte van voortdurende en baie openbare druk wat ons verlede jaar op ouers uitgeoefen het om betyds aansoek te doen,” verduidelik die woordvoerder van die WKOD, Bronagh Hammond, aan Standard. “Dit is die werklikheid wat ons in die gesig staar; iets waarmee ander provinsies ook gekonfronteer word. Die uitdaging met laat aansoeke is dat ons nie weet hoeveel laat aansoeke ons sal ontvang of waar plasings vereis sal word nie. Ons weet nie vir watter grade, taal en ouderdomme, vakke of gespesialiseerde behoeftes ons in ag moet neem nie.”
Klein meen egter sy was net sowat drie dae laat met haar kleinseun se aansoek, aangesien sy weens ’n fout by binnelandse sake gesukkel het om die papierwerk te voltooi.
Laurrel Visser van Riverview sê haar dogter sou haar gr. 8-jaar vanjaar by ’n skool in die dorp begin, maar toe hulle op die eerste dag vir klas aanmeld, is hulle ingelig dat sy nie op die lys verskyn nie en dus nooit geregistreer is nie.
“Die skool het toe uitgevind wat aangaan en blykbaar was alles nie reg ingevul nie. Ons wag steeds op ’n antwoord.”
Die WKOD sê hy is bewus van dié gevalle en het ouers gemaan om oproepe te beantwoord en beskikbaar te wees as die WKOD kontak wil maak.
“Ons kry al te dikwels ’n plek vir ’n leerder, maar kan nie die ouer in die hande kry om plasing te bevestig nie. Dit vertraag vordering. Ons probeer so gou as moontlik die probleem op te los. Verskeie faktore kan hierdie probleem veroorsaak, en ons neem alles in ag as ons die aansoeke hanteer. Goeie vordering is die afgelope paar jaar gemaak met talle klaskamers wat gebou word om die agterstand die hoof te probeer bied,” verduidelik Hammond.
As die statistiek met vorige jare se nie-plasings in skole vergelyk word, blyk dit die departement maak wel vordering.
“Ons verstaan dat hierdie ’n stresvolle en angstige tydperk vir hierdie ouers is. Ons sal geen steen onaangeroer laat nie. Hoewel dit druk en stresvolle omstandighede vir ons almal is, is ons in ‘n beter posisie as vorige jare, en begin die jaar met ‘n aansienlik verminderde aantal leerders wat plasing benodig as vorige jare.”
Hammond sê ouers wat steeds wag, kan kontak maak met die departement om op te volg – veral as hulle dalk oproepe of boodskappe misgeloop het.
Die aansoektydperk vir 2024 sal ook binnekort open.
“Ons bedank alle ouers wat wel betyds aansoek gedoen het, wat ons die tyd gegee het om oor betroubare data te besin en met rolspelers te bespreek, sodat ons toepaslik kan beplan om hul kinders te plaas. Ons doen ’n beroep op ouers wat vir volgende jaar aansoek wil doen – doen dit gedurende die betrokke toelatingsperiode wat op 13 Maart begin en op 14 April eindig,” vra Hammond.
Visser en Klein sê dit is nou vir hulle ’n saak van gebed dat vordering die volgende paar dae gemaak sal word.


