Laer volumes tafeldruiwe word vir die 2023-seisoen verwag. Foto: Terra Slaybaugh/Unsplash


Die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati) verwag vanjaar laer volumes vir 2023 se seisoen, hoewel die plaaslike Bergrivierstreek se oes goed lyk.

Volgens Sati, die bedryf se verteenwoordigende liggaam, word tafeldruiwe in verskeie streke aangeplant en verskillende weerstoestande, wat ’n rol op vanjaar se oes kan hê, is oor die land heen ervaar.

AJ Griesel, die uitvoerende hoof van Sati, verduidelik ongunstige weerstoestande gedurende die lente in die Oranjerivierstreek het tot ’n ligter en vroeë oes gelei, terwyl Limpopo se tafeldruifprodusente op hul beurt swaar reënval gedurende hul oestyd ervaar het. Volgens Griesel wys alle aanduidings daarop dat die Bergrivier- en Swartlandstreek behoort vanjaar ’n normale oes op te lewer. Die bedryf is optimisties oor dié streek se volumes, wat hulle glo met die verwagte volumes ooreen sal stem. Volgens hom verteenwoordig die Bergrivierstreek sowat 20% tot 25% van die land se tafeldruifbedryf.

Die nasionale oesskattings in terme van volumes is sowat 9% laer as dieselfde tyd verlede jaar. Syfers wat tans ingeneem word, dui op 66 miljoen kartonne (of 28 831 117 miljoen kartonne van 4,5 kg) teenoor verlede jaar se 75 miljoen kartonne. Uitvoervolumes staan op 19 061 242 miljoen- 4,5 kg-kartonne, wat op sy beurt weer 10% hoër as verlede jaar is. Die plaaslike tafeldruifbedryf dra sowat R10 miljard tot die land se ekonomie by, sê hy. “Daarom is samewerking met die hawens en die nasionale kragvoorsiener, Eskom, van die allergrootste belang,” voeg Sati in sy mees onlangse nuusbrief by.

Variasies tussen volumes verwag en volumes uitgevoer word gewoonlik toegeskryf aan skepe wat die een week verpak en die volgende week vertrek, verduidelik Mercia Petersen, Sati se kommunikasiebeampte, in die nuusbrief.

Sy verduidelik skeepsvraghouers word gedurende week een op een skip gelaai, maar dit word slegs as uitvoervolumes getel sodra die skip daarna – in die tweede week – die hawe verlaat.

Bottelneksituasies word vir die volgende paar weke voorspel namate verskeie kultivars piek-verpakkingstye bereik.

Noue samewerking met die Kaapstad-hawe sal voortdurend gehandhaaf word, verseker die bedryf.

“Beurtkrag bly ’n enorme uitdaging vir die streek, maar ook alle streke,” het Petersen op navraag oor watter invloed die land se kragkrisis tans op die bedryf het, geantwoord. “Hoewel talle produseerders alternatiewe planne ingestel het, het die huidige oplossings ook maar uitdagings en is dit beperk. ’n Groter impak op besproeiingskedules en hoër dieselkostes word veral gedurende fase 5- en 6-beurtkrag ervaar. Die impak wat beurtkrag op die produseerders het, is geweldig groot. Huidige vlakke is nie volhoubaar nie.”

Sati gaan voort om met Eskom en ander betrokke belanghebbendes te kommunikeer “sodat ’n bedryf-gefokusde oplossing gevind kan word”, voeg sy by.

Petersen het bevestig dat die Bergrivierstreek tans redelik goed vaar. Tafeldruifproduseerders is nou besig om verskeie kultivars te verpak.

“Die produkte toon goeie bessiegehalte en is gesond. Wit druiwe lyk veral baie goed,” voeg sy by.

Sommige kultivars kom wel ligter as die vorige jaar voor, met ander wat weer gelykbreek met die verwagte volumes vir vanjaar. “Dit is nog te vroeg om die totale getalle vir vanjaar se tafeldruifoes te noem, maar aanduidings dui daarop dat volumes met die mees onlangse oesskattings ooreenstem.”

Kaapstad se verkoelingstore staan tans op 35%-kapasiteit en sal na verwagting binnekort toeneem.

Belanghebbendes van die hawens het verlede week met die Wes-Kaapse regering vergader om alle haweverwante sake te bepreek, insluitende planne wat op die tafel is om nuwe toerusting aan te skaf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article