Die gewilde Swartlandskou in Moorreesburg is om die draai en begin aanstaande week (7 September).

Besoekers en skou-entoesiaste kan vanjaar weer uitsien na ’n behoorlike program vol aktiwiteite, uitstallers en vertonings. Die Swartlandskou bars in die 88ste bestaansjaar uit sy nate en net soos in die verlede gaan gespog word met tentoonstellings van perde, skape, pluimvee en baie meer.

Weens die nasionale verbod op die verskuiwing van beeste as gevolg van die bek-en-klouseer-pandemie het die bestuur van die skou verlede week die moeilike, maar onafwendbare besluit geneem om die beesskou-afdeling af te gelas.

Jacques Bester, die skoupresident, sê egter dat daar steeds hope aktiwiteite en uitstallers in die bees-arena aangebied sal word.

Ouers sal ook bly wees om te hoor ’n groot deel van die arena word in ’n speelplek vir die kleinspan omskep.. Besoek die skou se webblad by www.swartlandskou.co.za vir nog inligting en kaartjieverkope.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article