Plaaslike deelnemers aan die gewilde televisiereeks My Kitchen Rules SA het onlangs die program behoorlik aan die kook gehad met ’n rekordgetal punte.
Abraham van Zyl (34), oorspronklik van Malmesbury, en sy spanmaat en beste vriendin, Michelle Theron (35), wat in Stellenbosch grootgeword het, het in die 10de episode van reeks vier geskiedenis gemaak. Die episode is Sondag 6 November op M-Net uitgesaai.
Die kookspan het ’n ongelooflike telling van 82 uit 100, die hoogste nóg, vir hul kookuitdaging ontvang. Nie net het die duo daarin geslaag om hul doel te bereik nie, maar hulle het ook heel bo aan die punteleer van hul groep geëindig. Asof dié prestasie nie genoeg was nie, het hulle die meeste punte vir MKR in reeks vier bymekaar gemaak én die hoogste puntetelling nóg in die geskiedenis van Suid Afrika se My Kitchen Rules ontvang – en dít met die resepte waarmee hulle grootgeword het.
Van Zyl se ouers, Du Toit en Ilse van Zyl, woon steeds in Malmesbury, terwyl hy intussen na Johannesburg verhuis het vir ’n loopbaan in die advertensiewese. Theron het op haar beurt saam met haar man na Pretoria verhuis, waar sy deesdae as ’n praktisyn in kommersiële eiendom spesialiseer.
Van Zyl en Theron se liefde vir kos is gewis gedurende hul grootwordjare gekweek. Theron vertel haar ma, Ronel, was nie juis die kok in die huis nie, maar het wel van lekker kos gehou. Haar pa, CP, was die een wat meestal kos gemaak het, hoewel dit in die vorm van ’n tjoppie op die kole of ’n smullekker bredie was. Sy beskryf dit as regte boerekos in alle vorme. Sy verlang steeds terug na hul Sondagmiddagdisse. Tog het Theron op hoërskool met verskillende slaai- en groentebygeregte begin eksperimenteer. Sy het in haar studentejare as kelnerin in twee van die land se top-10-restaurante gewerk. Wanneer sy in die restaurant instap, het die kosgeure haar geslaan. “Toe weet ek dat kos my voete onder my uitgeslaan het,” vertel sy met oorgawe.
Van Zyl is op sy beurt lief vir die mooi en lekker dinge in die lewe. “My ma was destyds ’n huishoudkunde-onderwyseres en ek het haar altyd in die kombuis mooi dopgehou,” Hy beskryf sy pa as
’n meester-braaier. Hy het seker gemaak sy pa se braaivernuf raak deel van sy eie DNS.
Van Zyl en Theron het mekaar sowat ses jaar gelede ontmoet. Dié vriende het eers gedurende ’n vakansie in Mosambiek besef hulle deel dieselfde passie. Van Zyl onthou hoe hulle in ’n kombuis oor kos gestaan en gesels het. “Dit was die begin, en die res is geskiedenis,” vertel hy.
Theron se ma is in 2015 oorlede. Haar pa was die ware inspirasie agter hul uiteindelike inskrywing vir MKR 2022 nadat hy in 2021 dood is. Sy het ná ’n moeilike tydperk die nuwe jaar met ’n “vat ’n kans en moenie terughou nie”-houding ingegaan. Toe die oudisies vir die vierde reeks bekend gemaak is, het hulle inderdaad geloof eerste gestel en ingespring.
Van Zyl en Theron se spyskaart vir hul “Instant Restaurant”-uitdaging op dié geskiedkundige episode beskryf hulle as spesiaal. “Die biltongbroodjie is iets wat ek elke Sondagaand ná die groot Sondagmaal by my ouma se huis geëet het. Die pampoenkoekies is weer iets wat Sondae saam met die hoofmaal bedien is,” verduidelik Van Zyl. “Ek en Michelle het gesê hoewel ons die resepte koester waarmee ons grootgeword het, is dit nie iets wat ons net so gaan bedien nie. Dit moes anders, vernuwe en – mag ek sê – lekkerder wees,” skerts hy.
Hulle spesialiseer graag in verskillende disse en geure van oor die wêreld heen, maar dit is die nostalgie en tuisgevoel van Suid-Afrikaanse – en veral Afrikaanse – kos wat vir hulle so spesiaal is. Volgens Van Zyl, vertel dit ’n storie van hul geskiedenis, maar ook waarheen hulle op pad is, deur dit te vernuwe. Vir Theron is geure baie belangrik wanneer dit by kosmaak kom, terwyl Van Zyl die basiese fondamente van kook altyd in gedagte hou.
Die prestasie beteken vir beide amateurkokke ongelooflik baie. Een van Theron se doelstellings was om iewers ’n 10 uit 10 vir ’n dis te kry. Die beoordelaar, J’Something, het inderdaad volpunte vir hul nagereg, pampoenkoekies, toegeken. En almal wil nou ’n happie van hul hoofmaal, Bobotie Short Rib, hê. Die beoordelaars het saam 51 punte toegeken, terwyl hul gaste 31 toegeken het.
Die ervaring is alles wat hulle verwag het en meer. Vir Michelle het dié geleentheid haar hart weer laat oopbars en kleur na haar lewe gebring.
Van Zyl verklap hoe hy self verlede jaar deur ’n moeilike tyd gegaan het. Sy deelname aan die reeks het sy selfvertroue ’n hupstoot gegee. “Dit het my weer laat besef as jy passievol is oor iets en jy werk hard daaraan, moet jy vir niks en niemand terugstaan nie. Dit was ook vir my en Michelle belangrik om met Suid Afrika te deel hoe belangrik dit is om ’n droom te hê en voluit daarvoor te gaan.”
Volgens Van Zyl sal hulle graag hul eie program wil begin en die land plat reis en op die wonderlikste plekke kook.
Theron wil ’n loopbaan in spyseniering ná die program aanpak. Sy hoop dat groter geleenthede oor hul pad sal kom as sy saam met Van Zyl kan werk.
Hulle is albei baie mededingend, wat die program hulle soos ’n handskoen laat pas. Van Zyl het die Ysterman 70.3 al twee keer gedoen en sien reeds uit na die volgende een. “Daar is iets wonderlik daaraan om jouself toe te spits op ’n uitdaging, voluit te gaan en dan hopelik te wen of jouself te verbeter,” voeg hy by.
Van Zyl kom nog gereeld Malmesbury toe en beskryf dit steeds as huis. “Ek is baie lief vir die Swartland en dit is vir my altyd lekker om vir mense te vertel waar ek grootgeword het. Mense in Gauteng reis na die Swartland vir wat dié streek het om te bied,” spog hy.
En moenie dink hulle pas slegs hul talente op die kassie toe nie. In die week is dit enigiets van steak-broodjies met vars roket, mostert en groen rissiesous tot sy eie tuisgemaakte lasagne en hoenderpastei – alles van die begin af self gemaak – voeg Van Zyl by.
Slegs drie episodes in die reeks is nog oor. Hoewel hulle op 11 November se episode ’n noue ontkoming met die hamburger-uitdaging gehad het, het Van Zyl en Theron na die volgende ronde deurgedring. “Baie drama en spanning lê nog voor, so – bly asseblief ingeskakel elke Sondag om 18:00 op M-Net (kanaal 101),” moedig hy aan.
Kykers wat enige episodes gemis het, kan dit op DStv Catch-Up kry. Die laaste episode word Sondag 11 Desember uitgesaai en kykers sal tot dan moet wag en sien of die Swartlander en sy spanmaat tot die einde sal kan vasbyt.





