Die tydrenaksie skop môre (Vrydag) af. Foto: Swartland Gazette-argief


Die SA Nasionale Tydren-kampioen­skap, met deelnemers van oor die land heen, is hierdie naweek terug in die Swartland met twee rondes oor twee dae.

Die wegspring en die eindpunt op al twee dae is aan die buitewyke van Malmesbury, wat die gasheer vir die sowat 30 spanne is.

Die byeenkoms sluit ook ’n ronde van die Wes-Kaapse tydrenkampioenskap in.

Die kollig sal gewis op die meer bekende Toyota-spanne val, wat splinternuwe tegnologie onder die dop van hul Starlet-tydrenmotors het.

’n Onlangse terugslag is die diskwalifisering van die nuwe vierwielaangedrewe Volkswagen Polo R1 van die jongkanon Benjamin Habig uit KwaZulu-Natal. Dié jaer, die seun van die oudkampioen Jannie Habig, is in nasionale geledere as die gunsteling bo die manne van Toyota, Jono van Wyk in motor nr. 10 en Mandla Mdakane in die Starlet nr. 21, beskou.

Sy motor is egter ingevolge homologasiereëls gediskwalifiseer.

Plaaslike jaers sluit in Inus de Plessis van Stellenbosch, Cobus Edas van Malmesbury, Benjamin Johnson van Stellenbosch en Johann Zulch van Ceres, om maar net ’n paar te noem.

Die tydrenaksie begin môre (Vrydag 12 April) om 10:00 by die Hyundai Malmesbury-vertoonlokaal, van waar die eerste motor na die wegspringpunt van die De Grendel-sneltrajek, wat om 10:14 begin, sal vertrek.

tydren

Die tydrenaksie skop môre (Vrydag) af. Foto: Swartland Gazette-argief

Die dienspunt voor die wegspring en tussen al die sneltrajekte in en om Malmesbury sal by die Hoërskool Swartland wees.

Die hele tydrenbrigade vertrek ná die eerste vyf sneltrajekte net voor 16:00 op die N7 Kaap toe na die Killarney-renbaan, waar twee gewone sneltrajekte en die uiters opwindende Supersneltrajek – twee motors gelyktydig op ’n spieëlbeeld van die roete – teen mekaar en die stophorlosie jaag.

Die tydren hervat Saterdagoggend om 10:00 weer van Hyundai Malmesbury af, met die eerste motor wat die eerste sneltrajek van die dag om 10:25 aandurf.

Die eerste motor word ná die sesde sneltrajek omstreeks 15:00 by die eindpunt by die Du Vlei-plaasstal verwag.

Die dag se dienspunt tussen sneltrajekte sal ook hier wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article