ASHTON – Dit is hartverskeurend om ’n wedstryd só te verloor – met ’n strafdoel deur jou teenstanders in die laaste oomblikke van die wedstryd.
Dit was verlede Saterdag, 13 Mei, die lot van die besoekende Montagu-rugbyklub, wat tans sukkel om uit die wegspringblokke te kom, op die Cogmanskloof-sportterrein. Dit was dié span se vyfde nederlaag sedert die ligawedstryde begin het.
Ashton United se vlugvoetige heelagter met die dodelike skopstewel, Anrich Nelson, het enkele sekondes voor die eindfluitjie die besoekers en hul ondersteuners se harte gebreek toe hy ’n strafdoel tussen die pale deurgeskop het om die wedstryd in sy span se guns te beklink.
Die tuisspan, wat in daardie laat stadium van die stryd nog 24-26 agter was, was in ekstase toe die eindfluitjie blaas met telling die uiteindelik 27-26 in sy guns.
Maar hoe dit ook al sy – dit was regdeur ’n baie gelykop stryd en die uitslag was letterlik tot in die laaste sekonde van die kragmeting in die weegskaal.
In die eerste helfte het die spanne mekaar goed in toom gehou, maar albei spanne het ook heeltemal te veel hanteerfoute begaan.
Nie een van die twee spanne kon in die eerste veertig minute ’n drie druk nie, ten spyte daarvan dat Montagu in daardie tyd die oorhand in die vaste skrums gehad het.
Ironies genoeg was Nelson – wat die laaste sê in die wedstryd gehad het – juis ook die een wat die eerste punte vir sy span met ’n strafdoel behaal het.
Niven Langdown, die losskakel van Montagu, wat ’n baie goeie wedstryd gehad het, het self goed gekorrel. Hy het met twee strafdoele geslaag om sy span die voortou met 6-3 te laat neem.
Nelson het egter hierna met nog ’n suksesvolle strafdoel sake weer gelyk gemaak (6-6).
Die wipplankryery het uiteindelik regdeur die wedstryd geduur.
Net voor rustyd het Langdown met sy derde strafdoel sy span weer met 9-6 laat voorloop.
Dit was ook die telling toe die spanne ’n blaaskans geneem het.
Met die aanvang van die tweede helfte, en ná die aanbring van ’n paar vars bene, was daar skielik meer woema onder die voorhoede van die tuisspan.
Hier het veral Neven Lukas, die plaasvervanger-flank, met sy kragtige stormlope die oog gevang.
Ná rustyd het die akkurate Nelson die telling weer eens met ’n strafdoel 9-9 gelykop gemaak.
Minute later het die Boland Kavalier, Cleve Malgas, wat deurentyd gevaarlik gelyk en verskeie kere toegeslaan het, ’n prag-drie – wat nie verdoel is nie – afgerond. Dit het sy span met 14-9 weer die voortou laat neem.
Die humeure het ’n keer of wat tydens dié spannende kragmeting opgevlam.
Die skeidsregter, Habrey Philander, het die eerste van vier geelkaarte wat hy tydens die wedstryd uitgedeel het, aan Brendon Beukes van die besoekers gewys. Beukes is toe van die veld af.
Kort daarna het die haastige linkervleuel van Ashton, Zinzaan Willians, gaan druk. Die doelskop was nie daar nie, maar die telling was weer eens gelyk met die telling 14-14.
Philander het ’n rukkie later, ná nog ongeoorloofde spel, ’n verdere twee geelkaarte uitgepluk – een vir die tuisspan se nommer 6-flank en een vir die besoekers se vaskopstut, Emil Moses. Beide spelers is afgestuur.
Op een tydstip in die wedstryd het Montagu vir ’n paar minute slegs 13 spelers op die veld gehad.
Ashton het die leisels ’n rukkie later oorgeneem toe Lemuhr Blade Hill (slot), wat die bal ’n paar keer sterk gedra het, ná ’n kragtige lopie langs die doelpale vir ’n prag-drie oorgeval het. Nelson se doelskop was tussen die pale deur en die telling het na 21-14 gegroei.
Nie lank hierna nie was die telling nog ’n keer gelyk nadat die glibberige Langdown die tuisspan aan die slaap gevang en byna ongesiens by die “kleinkantjie” om geglip en oorgeduik het vir sy span se tweede drie. Hy het sy drie self verdoel en die telling het na 21-21 aangeskuif.
Montagu het minute later ’n derde geelkaart ontvang toe Nico Khana (slot) vir ’n oortreding afgestuur is.
Nelson het met die gepaardgaande strafdoel verder sout in die besoekers se wonde gevryf toe sy span weer die voortou met 24-21 geneem het.
Montagu het besef daar is bitter min tyd oor en het verwoed aangeval.
Dit het gelyk asof die besoekers met ’n oorwinning gaan wegstap toe Handré Ontong vir sy span se derde drie oorgegaan en die telling tot 26-24 in die besoekers se guns gegroei het.
Maar toe gebeur dit – met letterlik sekondes oor voordat die eindfluitjie sou blaas, is Montagu vir ’n oortreding gestraf.
Nelson, met sy dodelike skopvoet, het onder groot afwagting van die skare pale toe aangelê.
Ná ’n kort verposing waartydens hy die pale beloer het, het hy vorentoe getree, die bal goed getref en onder groot toejuiging van sy spanmaats dit tussen die mikke deur gejaag om die wedstryd 27-26 vir sy span te beklink.
Nelson, met sy persoonlike bydrae van 17 punte (vyf strafdoele en een doelskop) is ook welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.


