Verskeie wyne van die streek is by Veritas 2022 met dubbelgoue en goue medaljes vereer.
Groot hoogtepunte is bereik met die uithanggeselligheid vir vanjaar se 32ste Veritas-toekennings, met nog ’n rekord aantal medaljes aan bekende handelsmerke, sowel as nuwelinge, terwyl die top-trofee vir die beste wyn by Veritas deur die 2019- Tokara Reserve Collection Cabernet Sauvignon verower is.
Hierdie luisterryke geleentheid is Saterdag 8 Oktober in ’n markiestent op die uitgestrekte grasperk voor die Nederburg-herehuis gehou.
Die atmosfeer van optimisme oor ’n blink toekoms vir die wynbedryf het by die Veritas-prysuitdeling voortgeduur ná die vorige dag se afsluiting van die hoogs suksesvolle Cape Wine-aanbieding vir internasionale kopers en die media in Kaapstad.
Ander sterre van die Veritas-geselligheid was Distell, met sewe dubbelgoud wyne, wat Nederburg se vyf dubbelgoud-medaljes as beste kelder insluit, gevolg deur KWV, Spier, Kleine Zalze en Wellington Wyne, kort op hul hakke met vier dubbelgoud elk. Distell het ook die louere in die brandewyn-afdeling ingeoes, met vyf dubbelgoud-medaljes, waaronder Van Ryn se drie dubbelgoud.
Drie wynmakerye het ook puik presteer met drie dubbelgoud elk, naamlik Benguela Cove, Cilmor en De Grendel, terwyl elf kelders elk twee dubbelgoud ontvang het.
In die Robertsonstreek het Bon Courage-landgoed die beste presteer met ’n dubbelgoud vir sy 2022- wit muskadel en vier goue medaljes vir sy 2021- Inkara Limited Release shiraz, die 2021- The Pepper Tree shiraz, die 2022- Gooseberry Bush sauvignon blanc sowel as die 2013- Jacques Bruére Rosé Cuvée Brut cap classique.
De Wetshof-landgoed pronk met dubbelgoud vir die 2022- Danie de Wet “matured on the lees”- chardonnay asook goue medaljes vir die 2022- Lilya dry rosé sowel as sy 2022- sauvignon blanc. Die Rooiberg-wynmakery se 2020- pinotage reserve sal voortaan kan pronk met die Veritas-dubbelgoud-plakker en goue medaljes is toegeken vir sy Cape blend reserve van 2020 en ook die 2022- halfsoet colombar.
Van Loveren het dubbelgoud ontvang vir sy 2022- chenin blanc no 5 en die 2022- effe-droog Neil’s Pick colombar het ’n goue medalje ontvang. Graham Beck Wines se 2017- Blanc de Blancs vintage collection brut classique is met dubbelgoud bekroon. Goedverwacht se 2022- Great Expectations sauvignon blanc is ook met dubbelgoud beloon.
Ashton Wynmakery se 2018- Roodewal Reserve sowel as sy 2022- sauvignon blanc het elk goud ontvang. Goue medaljes is ook aan die Robertson-wynmakery vir sy 2022- Thierry & Guy Fat bastard sauvignon blanc en William Robertson-vyfjaarbrandewyn oorhandig..Die Veritas-toekennings het vanjaar 1 312 aanspraakmakers uit 183 deelnemers gehad. Altesaam 1 177 medaljes is toegeken – 103 dubbelgoud, 136 goud, 218 silwer uitstaande, 515 silwer en 205 brons.




