Die 25-jarige Christiaan Burger (regs), saam met Louis Van Rooyen, een van die afrigters by die Van Rooyen-stoeiklub in Bloemfontein.

Credit: SYSTEM

Christiaan Burger (25) is ’n bobaas-stoeier en gaan sy staal in die opkomende Afrika-stoeikampioenskap wys nadat hy gekies is om die Suid-Afrikaanse stoeispan in Tunisië te gaan verteenwoordig.

Christiaan is in die Langebergdistrik gebore en getoë, waar hy in 2015 aan die Hoërskool Montagu gematrikuleer het, maar het die wynlande vir die oop vlaktes van die Vrystaat verruil.

Tans hou dié stoeier hom besig deur vir Amazon as sagtewaretegnikus te werk, twee keer per week by die Van Rooyen-stoeiklub te oefen en in die gimnasium verder aan sy krag en fiksheid te skaaf.

Volgens Christiaan het hy sy stoei-loopbaan in 2006 begin en tot 2014 deelgeneem, waarna hy sy deelname weens studies onderbreek het. Hy het eers in 2020 weer op die stoeimat geklim.

Van dáár af het Christiaan nie weer teruggekyk nie en volspoed al die pad gestoei tot waar hy van 15 tot 21 Mei in Tunisië gaan deelneem.

Christiaan sê hy sie “baie uit” na sy deelname aan die Afrika-stoeikampioenskap.

Sy pa, tesame met die Suid-Afrikaanse stoei-vereniging sowel as ander borge, maak die reis na Tunisië vir hom moontlik.

Hy sal in die Afrika-kampioenskap in die 79-kilogram-Grieks-Romeinse afdeling meeding en hoop op groot sukses in dié stoeiklas.

Christiaan se einddoel is om eendag aan die wêreld-stoeikampioenskap deel te neem en ook in die Olimpiese Spele te stoei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article