Die wenners van die tweede reeks van Massey Ferguson se Master Mechanic-kompetisie is aangekondig, en een van hulle woon in Malmesbury.
Stiaan Redelinghuys (28), ’n gekwalifiseerde trekker-werktuigkundige, word nie net binnekort pa nie, maar stap ook as wenner saam met sy spanmaat, Lodewyk Wiid, van Hoopstad, weg. Die program is op 18 November uitgesaai.
Stiaan het vanjaar besluit om vir die tweede realiteitsreeks in te skryf nadat hy verlede jaar weens ander verpligtinge nie kon deelneem nie. Die kompetisie is die enigste in sy soort in die wêreld. Stiaan is ook die enigste kandidaat uit die Wes-Kaap wat gekies is om deel te neem. Slegs ses deelnemers van oor die land heen het uiteindelik sake teen mekaar op die realiteitsprogram uitgespook.
Vanjaar se kompetisie het hoëperdekrag-trekkers ingesluit.
Die drie spanne van twee elk is gedurende die program deur twee spesialis-beoordelaars op grond van sekere kriteria beoordeel, soos kennis van die produk, spanwerk en tegniese vermoëns.
Vir Stiaan was dit ’n ongelooflike ervaring. Hy bieg dat hy nie regtig een vir die kameras is nie, maar ook nog nooit voor ’n kamera was nie. Hy is met sy aankoms op stel deur ’n produksiespan van sowat 40 mense gegroet. Die verfilming van die program is in Kemptonpark by Massey Ferguson se fabriek gedoen en het vier dae geduur.
Hoewel elke episode slegs 25 minute lank was, het hulle van 06:00 tot 21:00 gewerk.
Volgens Stiaan was die laaste deel van die kompetisie baie stresvol. Hul laaste uitdaging was op ’n 8S, die nuutste trekkermodel van Massey Ferguson. Hoewel hy nog nooit aan dié trekkers gewerk het nie, het hulle daarin geslaag om heel bo op die punteleer te bly. “Dit was ’n bietjie stresvol.”
Buiten al die uitdagings in die kompetisie, het Stiaan ingeskryf omdat hy geweet het dit gaan lekker wees. “Dit gaan nie net oor wen nie.”
Stiaan het tien jaar gelede – op 28 November – by Hennie’s Trekkers in Malmesbury ingestap, ’n dag nadat hy sy laaste vak in sy matriekeksamen by Hoërskool Montagu in Robertson geskryf het. Hy is in Tulbagh gebore, waar sy pa en die eienaar van Hennie’s Trekkers, oom Hennie, mekaar as kinders leer ken het, vertel hy. “Dit is hoe ek by Hennie’s Trekkers beland het,” dink hy terug.
Hy het alles wat hy vandag ken, daar geleer. Dit is ook waar hy sy rooi seël as ’n gekwalifiseerde trekker-werktuigkundige ontvang het.
Met ’n dekade van kennis oor die produk agter hom glo Stiaan hy sal nie sommer dié rooi trekkers agterlaat nie.
Hy geniet sy werk en sê elke dag verskil van die vorige dag. “Daar is elke dag nuwe probleme; soms snaakse probleme. Geen dag se werk is dieselfde nie.”
Stiaan en die res van die deelnemers vertrek op 14 Januarie na Beauvais in Frankryk waar die hoëperdekragtrekkers van Massey Ferguson gebou word.
Hy wou nog altyd daarheen gaan, vertel hy opgewonde.
Dié voorreg sou aanvanklik slegs aan die wenners toegeken word totdat Stiaan ingetree het.
“Ek het gevra almal van ons moet gaan, omdat elkeen ewe hard gewerk en gesweet het om tot hier te kom,” voeg hy by.





